Dit is onaanvaarbaar dat die bankrot SAL wat die afgelope jare met miljarde rande se belastinggeld aan die lewe gehou moes word, nou die land se nasionale sokkerspan met miljoene rande borg, sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor openbare ondernemings.
Dr. Groenewald sê die redery moet verduidelik presies wat die borgskap behels en waar die geld vandaan gaan kom.
‘n Ekonoom van die Vryemarkstigting (VMS), Loane Sharp, het verlede jaar luidens ‘n berig in Netwerk24 gesê die staat se hulp aan die SAL oor die afgelope jare beloop na raming tussen R14 miljard en R45 miljard. Dié hulp is in die vorm van lenings wat op die staat se balansstaat getoon word asook waarborge.
Volgens dr. Groenewald beloop die skade wat die SAL aan die land se ekonomie aangerig het, veel meer as hierdie bedrag aangesien die redery veronderstel is om ‘n winsgewende onderneming te wees wat geld in die ekonomie moes terugploeg.
“Die VF Plus sal ‘n parlementêre vraag vra oor die besonderhede van hierdie borgskap aan Bafana-Bafana. Die stilswye hieroor is kommerwekkend en dit moet openbaar gemaak word. Ons wil ook weet of die redery as borg vir enigiemand anders optree.
“Dit is duidelik dat die SAL slegs oorleef weens die miljarde rande van die publiek se belastinggeld, en dit beteken per definisie dat publiek nou die sokkerspan met hul belastinggeld moet borg.
“Die onderpresterende span is tans sewentigste op Fifa se ranglys, en sal daarom sukkel om groot borgskappe vanuit die sakewêreld te lok. Dit is nie aanvaarbaar dat die staat en die publiek ‘n span borg wat soos die SAL, onderpresteer nie,” sê dr. Groenewald.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403