Die VF Plus vier nie net vandag sy 30ste verjaarsdag nie, maar het ook ’n belangrike mylpaal bereik tydens die ondertekening van ’n samewerkingsooreenkoms tussen die Tshwane-metro en AfriForum wat by Furnam Park in Valhalla, Centurion plaasgevind het.
Hierdie ooreenkoms tussen die Tshwane-metro en AfriForum is deur die burgemeester, Cilliers Brink en die uitvoerende hoof van AfriForum, Kallie Kriel, onderteken.
Die VF Plus ondersteun hierdie inisiatief en is toegewyd daaraan om die gemeenskap meer betrokke te maak by verskeie projekte regoor die metro.
Dienste wat in die samewerkingsooreenkoms uiteengesit is sluit in veiligheid, herstel van slaggate, die instandhouding van parke (aanneem van parke), bystand met grassny en ander gemeenskap-gefokusde inisiatiewe.
Die VF Plus sien daarna uit om met alle belanghebbendes saam te werk om spesifiek gemeenskapsveiligheid en die algemene welstand van gemeenskappe in Tshwane te bevorder.