Die provinsiale regering in Noordwes het met ‘n proses begin om die stadsraad van die Mamusa-plaaslike munisipaliteit, wat Schweizer Reneke insluit, te ontbind. Dit volg nadat daar reeds ‘n administrateur aangestel was in ‘n poging om die munisipaliteit te stabiliseer en basiese dienslewering te herstel.
Weens deurlopende konflik in die ANC-beheerde raad, asook die feit dat die administrateur aktief deur munisipale amptenare ondermyn is, het hierdie ingryping deur die provinsiale regering nie geslaag nie. Daar kon in die afgelope vier maande geen raadsvergaderings plaasvind nie.
Die ontbinding van die Mamusa-stadsraad is ‘n voortsetting van die ANC se nalatenskap van interne faksiegevegte om die beheer te verkry oor regeringshulpbronne en die gepaardgaande uitdeel van tenders aan ANC-kaders.
Hierdie hebsug vernietig gemeenskappe wat reeds met vele sosio-ekonomiese uitdagings gekonfronteer word. Dis ‘n absolute skande dat die ANC-regering toelaat dat hierdie wetteloosheid sonder enige aanspreeklikheid voortduur.
Kontaknommer: 079 885 1135