Die ANC se beweerde plan om nou ook die regbank radikaal te transformeer moet op elke wyse moontlik teengestaan word aangesien die regstelsel daar is om die burgers van die land te beskerm en nie om geplooi te word om die ANC ter wille te wees nie, sê dr. Corné Mulder, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor Justisie.
Luidens ‘n berig die afgelope naweek in die Sunday Times blyk dit dat die ANC meen regters is ‘teen-revolusionêr’ en dat die Geregtelike Dienstekommissie (GDK) sy werkwyse moet aanpas met die aanstelling van regters.
Dr. Mulder sê die ANC moet besef die regbank behoort nie aan hom nie.
“Die voorneme van die ANC om te probeer inmeng met die proses ingevolge waarvan regters deur die Geregtelike Dienstekommissie aangestel word, moet ten sterkste veroordeel word.
“Dit is duidelik dat die ANC nie daarvan hou dat die regbank hom tot verantwoording roep soos telkemale in die onlangse verlede gebeur het nie. Dit is die taak van die regbank om die Grondwet en die reg ter wille van alle landsburgers in stand te hou.
“Dit raak duidelik dat die ANC nie glo in die oppergesag van die reg nie, maar in die oppergesag van die ANC.
“Die VF Plus sal voortgaan om die skeiding van magte tussen die regsprekende-, uitvoerende en wetgewende gesag jaloers te bewaak en om die ANC se voorgenome planne op elke wyse moontlik teen te staan,” sê dr. Mulder.
Kontaknommers: 083 626 1497 / 083 419 5403