fbpx
Vryheidsfront Plus

ANC-regering nie in staat om sy eie planne oor mariene-bestuur uit te voer nie

Die regering se planne om die land se marienebronne beter te bestuur is prysenswaardig, maar ondervinding het al male sonder tal gewys dat die ANC-regering nie bevoeg is om sy eie planne behoorlik uit te voer nie.

Die Wetsontwerp op Mariene-Omgewingsbeplanning het prysenswaardige doelwitte en is ‘n holistiese, stelsel-gefundeerde voorstel wat sterk op tegnologiese hulpmiddels sal steun om die land se waardevolle hulpbronne sinvol te beskerm en terselfdertyd ekonomiese bedrywighede aan te moedig.

Dit voorsien ook dat verskillende departemente op tegniese, direkteur-generaals- en politieke vlak deur die onderskeie ministers met mekaar moet koördineer om doelwitte te bereik. Dit verseker dat beplanning en kwessies holisties behandel word wat ‘n sinvolle werkswyse is.

Die wetsontwerp stel ‘n werkswyse in die vooruitsig wat multi-dimensioneel en -departementeel is, maar dit kan ook sy Achilleshiel wees aangesien die regering se rekord ernstige bedenking laat oor sy vermoë om iets van hierdie omvang te koördineer en uit te voer.

Daar bestaan ook ‘n wesenlike gevaar dat die regering die voorgenome wet kan misbruik om te oorreguleer of regulasies te gebruik vir politieke agendas. Ons het reeds gesien hoe Sekanjalo Holdings ‘n mariene-kontrak onder vreemde omstandighede gekry het.

Dit maak die deur oop vir onbehoorlike bevoordeling wat nie toegelaat mag word nie. Regulering mag net plaasvind indien dit werklik nodig is en moet tot ‘n minimum beperk word.

Alhoewel geo-ruimtelike data normaalweg van buite-satellietbronne verkry word, sal dit lonend wees om die departement van handel en nywerheid te betrek om privaat-openbare vennootskappe te ondersoek vir die ontwikkeling van die land se eie satellietkapasiteit. Moderner koste-effektiewe tegnologie maak voorsiening vir die ontwikkeling van sodanige kapasiteit.

Gegewe die omvang van misbruik en besoedeling van die mariene-omgewing, moet die beskerming daarvan voorrang geniet. Dit beteken enersyds beter polisiëring van ons kuslyne. Daar is te veel onwettige vissersbote in ons waters.

Andersyds moet ons binnelands stappe neem om die verspreiding van plastiek in die mariene-omgewing wat endemiese afmetings aangeneem het, stop te sit. Hiervoor is weereens goeie koördinering tussen departemente nodig.

Die regte van gemeenskappe, soos die bruin vissers van veral die Weskus, is nou verweef met die mariene-omgewing. Dit mag nie onderdanig gestel word aan die groter industrie en rolspelers nie en moet eerder bevorder word deur samewerking met groter rolspelers.

Indien die regering dienslewering gebalanseerd in werking kan stel sonder oormatige regulering het die voorgenome wet baie potensiaal om ekonomiese voordele te ontsluit en die mariene-omgewing na behore te beskerm.

Kontaknommers: 082 391 3117 / 065 801 7216

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.