Die ANC-regering moet die skuld kry dat Suid-Afrika nie gekies is om die rugbywêreldbeker-toernooi aan te bied nie, ten spyte van die feit dat Suid-Afrika die voorkeurkandidaat was, sê dr. Pieter Groenewald, leier van de VF Plus.
Dr. Groenewald sê dit is inderdaad vir alle Suid-Afrikaners ‘n teleurstelling, maar die besluit is te verstane wanneer die misdaadsituasie in die land in ag geneem word.
“Hierdie behoort ‘n wekroep vir die Zuma-regering te wees wat in ‘n droomwêreld verkeer en dink die internasionale gemeenskap neem nie kennis van die hoë vlakke van misdaad, die korrupsie en magsmisbruik wat die land se ekonomie lamlê nie.
“Nie eens die feit dat Frankryk self in die laaste tyd onder erge terreuraanvalle deurgeloop het en ‘n baie gunstige wisselkoers vir toeriste kon die skaal in Suid-Afrika se guns swaai nie. Dit behoort duidelik uit te spel hoe laag die wêreld Suid-Afrika tans aanslaan.
“’n Mens moet dit seker verwag as toeriste vanaf die OR Tambo-lughawe aangeval, beroof en getraumatiseer word, en wanneer toeriste van Nederland, Peru en Singapoer in hotelle en langs paaie soos onlangs in Magoebaskloof, Kaapstad en Kempton Park aangeval word.
“Dit sal mense gewis afskrik om na Suid-Afrika te reis. Suid-Afrika betaal nou die prys vir die buitensporige misdaadsituasie in die land en ‘n regering wat traag is om iets daaraan te doen,” sê dr. Groenewald.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216