fbpx
Vryheidsfront Plus

ANC-rapport: VF Plus gee Ramaphosa en kabinet druippunt

Die Vryheidsfront Plus het in die evaluering van die ministers vir die 2018-jaar besluit om al die lede van die kabinet ‘n swakker druippunt te gee, naamlik ‘n FF-druippunt (0-29%). Een rede is dat ‘n aantal veranderinge gedurende die jaar gemaak is aan die kabinet en sommige ministers ‘n kort tydperk in portefeuljes is en was.

Die belangrikste is egter dat die afsonderlike ministers as lede van die kabinet, kollektief verantwoordelikheid moet neem van hoe die land regeer is en nie net skouers kan optrek oor wat fout gegaan het nie. Die kabinet, as uitvoerende gesag, kry nie net ‘n druippunt nie, maar pres. Cyril Ramaphosa het gefaal in sy grondwetlike plig ten opsigte van nasiebou in Suid-Afrika.

Die grootste krisis in Suid-Afrika is werkloosheid weens die land se swak ekonomie. Die publiek se grootste behoefte is om ‘n stabiele werk en inkomste te hê, en die regering faal die burgers van Suid-Afrika in hierdie verband. Die regering kry ‘n swak FF (23%) om die volgende redes:

Gedurende die 2017/18-boekjaar het nasionale- en provinsiale departemente se oudit-uitkomste verswak. Slegs 23% van departemente het skoon oudits ontvang. Onreëlmatige uitgawes het tot R51 miljard gestyg en vrugtelose en verkwiste uitgawes met 200%.

Finansiële wanbestuur, korrupsie en mislukte beleidsrigtings laat Suid-Afrika op 'n fiskale afgrond afstuur.

Meer as 40% van die staat se begroting word aan salarisse bestee. Gratis hoër onderwys en die onvolhoubare maatskaplike afhanklikheid van die meerderheid Suid-Afrikaners veroorsaak 'n geweldige begrotingstekort en 'n toename in staatskuld.

Die regering het gedurende 2018 gefaal om beleggingsekerheid te skep, veral met die aanvaarding van die beginsel van onteiening sonder vergoeding, en het ook daarin gefaal om ‘n gunstige omgewing vir die privaatsektor daar te stel om sodoende werk te skep.

Werkloosheid is 'n krisis. Suid-Afrika het tans die hoogste jeugwerkloosheid in die wêreld met 57.4% van die land se jeug wat werkloos is.

Die regering se mislukking gedurende 2018 word deur die groter wordende krisis met betrekking tot uitstaande skuld deur munisipaliteite aan Eskom beklemtoon. Nog 'n jaar is verby terwyl daar geen oplossing vir hierdie probleem gevind is nie.

Daar word vir die afgelope twee jaar geploeter van dreigemente om kragtoevoer na munisipale gebiede af te sny tot onvolhoubare betalingsooreenkomste. Elektrisiteitstoevoer na waterpompstasies is gedurende hierdie jaar in verskeie dorpe deur Eskom weens die munsipaliteite se wanbetaling gesny wat die inwoners se grondwetlike reg van toegang tot skoon water skend.

Die totale uitstaande skuld van munisipaliteite aan Eskom is meer is R18 miljard.

Die landelike ekonomie ly hieronder met klein sakeondernemings wat reeds hul deure gedurende 2018 gesluit het en groter ondernemings wat afleggings doen weens gereelde krag- en wateronderbrekings wat produksie en handel kniehalter.

'n Verantwoordelike nasionale regering sou sy mandaat van samewerkende regering uitgevoer het en 'n werkbare oplossing vir hierdie voortslepende krisis bewerkstellig het. Die land se ekonomie ly weens die elektrisiteitskrisis.

Eskom se skuld het gedurende 2018 van R367 miljard tot R419,2 miljard toegeneem. Die rente op hierdie skuld beloop R45 miljard per jaar. Die entiteit se begrote verlies vir die 2018/19-boekjaar is R15 miljard terwyl daar sowat R17 miljard aan salarisse bestee word. Korrupsie en wanbestuur is grootliks verantwoordelik vir hierdie sombere prentjie.

Vir die eerste keer in drie jaar is daar weer in 2018 met beurtkrag begin wat 'n negatiewe impak op die reeds sukkelende ekonomie het.

Suid-Afrika het gedurende die tweede kwartaal van 2018 'n tegniese resessie beleef met 'n inkrimping van 0.4%. Daar was herstel gedurende die derde kwartaal en die land het uit die resessie gekom, maar die beurtkrag het die ekonomie weer 'n knou toegedien.

Die beurtkrag van Eskom eis sy tol wat produksie aanbetref en het 'n negatiewe uitwerking op beleggersvertroue.

Indien die swak bestuur en korrupsie by ander staatsondernemings soos SAL, Prasa, Denel ens. wat tot gevolg het dat die staat finansiële waarborge moet lewer, in ag geneem word, belemmer die staat se skuldlas die land se fiskale posisie. Die skuld tot BBP (Bruto Binnelandse Produk)-verhouding het gedurende die afgelope jaar tot 55.8% gestyg met die rente op hierdie skuld wat R181 miljard beloop. Die begrotingstekort word groter terwyl die behoefte aan maatskaplike bystand meer word.

Hierdie jaar is verder gekenmerk deur die onthullings van staatskaping voor die Zondo-kommissie en pres. Cyril Ramaphosa is nou volgens hom verbaas oor die omvang daarvan. Die werklikheid is dat pres. Ramaphosa, as adjunk-president sedert 2014 en hoof van regeringsake in die Nasionale Vergadering, hiervan bewus moes gewees het. Dit beteken hy het sy werk nie behoorlik gedoen nie.

Die kabinet het verlede jaar reeds kennis geneem van staatskaping, maar het niks gedoen om behoorlik op te tree en stappe aan te kondig oor hoe om dit op te los nie. Die Zondo-kommissie is nie die breinkind van pres. Ramaphosa nie, maar ‘n opdrag van die vorige Openbare Beskermer (OB), adv. Thuli Madonsella.

Pres. Ramaphosa het misluk om nasiebou en eenheid te bevorder. Art. 83(c) van die Grondwet bepaal duidelik dat hy as president eenheid in Suid-Afrika moet bevorder. Met sy omstrede uitsprake waar hy gedurig verwys na wittes en dat hulle eintlik die oorsaak is van die probleme van Suid-Afrika, skep hy polarisasie. Ander optredes van hom gee hom ‘n druippunt en FF-simbool vir die jaar.

Redes hiervoor is soos volg:

Hierdeur het hy die ANC se belange bo die belange van alle burgers in Suid-Afrika gestel. Die aankondiging was ook minagtend teenoor die parlement se Grondwet-hersieningskomitee wat reeds besig was met die proses van openbare verhore.

Die president en die ministers moet besef dat hulle as lede van die uitvoerende gesag nie kan skouers optrek en sê; ‘dit is nie my departement nie en daarom is ek nie verantwoordelik daarvoor nie’. Die president en elke minister het ‘n plig teenoor mekaar en teenoor die mense van Suid-Afrika en hulle het totaal daarin gefaal.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 626 1497 / 065 801 7216

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.