Die VF Plus beklemtoon opnuut sy teenkanting teen die regering se sogenaamde ‘Solidarity Fund’ nadat 'n video op sosiale media aan die lig gekom het wat wys hoe werknemers van die regering se uitgebreide openbare werke-program kospakkies vanaf ‘n vragmotor aflaai by die woning wat glo behoort aan Vusi Mkhatswa, die adjunkspreker van Mpumalanga se provinsiale wetgewer.
Daar is wyd in die media hieroor berig. Die VF Plus het reeds verskeie berigte ontvang van ongerymdhede rondom kospakkies wat onder hulpbehoewende mense uitgedeel moet word.
Dit is onaanvaarbaar dat die ANC die situasie misbruik om die publiek onder die indruk te bring dat dit net dié party is wat mense in hul nood help. Die VF Plus weier om by te dra tot fondse wat op rassegrondslag hulp verleen.
Die VF Plus verwerp die ANC se misbruik van staatshulp en -hulpbronne om hul eie politieke agenda te bevorder ten sterkste en eis dat die ANC-wetgewerslid waar die kospakkies afgelaai is, onmiddellik gedissiplineer en geskors word.
Kontaknommer: 084 652 9164