Die VF Plus gaan nie deelneem aan die ANC se beplande nasionale dialoog wat geskeduleer is vir Vrydag 15 Augustus 2025 nie.
Die VF Plus is van mening dat dialoog altyd baie belangrik is. Dat sinvolle, deurdagte en oplossoekende dialoog noodsaaklik is in Suid-Afrika. Aan só ‘n dialoog sal die VF Plus wel deelneem.
Ongelukkig het dit baie duidelik geword dat die ANC as die grootste party in die regering van nasionale eenheid (RNE) nie gereed is vir ‘n werklike deurdagte, oplossoekende dialoog nie.
Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het verlede week bevestig in opdrag van sy nasionale uitvoerende komitee (NUK), dat dié party nie sal afsien van sy mislukte ekonomiese- of buitelandse beleid nie. In die naam van transformasie word hierdie mislukte beleidsrigtings in Suid-Afrika opgedring tot nadeel van almal
‘n Politieke party met sodanige ingesteldheid en gesindheid kan nie ‘n geloofwaardige voog deur die presidensie, of deelnemer aan ‘n nasionale dialoog wees nie.
Die uitslae van die 2024-algemene verkiesing het duidelik aangetoon dat die kiesers vertroue in die ANC verloor het en nie langer bereid was om die ANC alleen met regeermag te vertrou nie.
Dít was die geleentheid vir die ANC om homself te bewys deur in gesprek te tree met alle belanghebbendes in Suid-Afrika. Dít was die geleentheid waartydens die ANC aan almal in Suid-Afrika moes wys dat hy geleer het uit sy foute en moes kon erken dat sy beleidsrigtings uitgediend is.
Die oorsake van Suid-Afrika se ekonomiese verval is geen geheim nie: Mislukte ANC-beleid soos swart ekonomiese bemagtiging (SEB), onteiening sonder vergoeding en ander rasgedrewe wette, tesame met korrupsie en kaderontplooiing, het staatsinstellings en munisipaliteite tot niet gemaak.
Dit is ook die ideologies gedrewe buitelandse beleid van die ANC wat namens alle Suid-Afrikaners gevoer word wat gelei het tot Suid-Afrika se isolasie en 30% handelstariewe van Amerika.
Die tyd het waarskynlik gekom vir ‘n ware nasionale dialoog sonder die ANC, van almal wat erns maak van vooruitgang en wil optree in die beste belang van Suid-Afrika. Beleggersvertroue kan slegs herstel word met ‘n realistiese vryemarkbeleid wat werkskepping en volhoubare groei sal aanwakker.
Solank as wat die ANC voortgaan met sy onversetlike beleidstandpunte is daar nie vir hom plek in so ‘n gesprek nie.
Die VF Plus nooi ander partye van die RNE om saam te werk aan praktiese oplossings wat Suid-Afrika se belange voorop stel.
Die party sal bly veg vir ’n land waar verdienste en geleenthede die toon aangee, nie uitgediende ideologie en politieke agendas nie.
Die VF Plus het sy hoof uitvoerende beampte, mnr. Pieter de Necker, opdrag gegee om as ‘n waarnemer die nasionale dialoog by te woon.


