Parlementslede het ’n grondwetlike plig om toe te sien dat die uitvoerende gesag verantwoordbaar gehou word. In stede daarvan doen die ANC sy uiterste bes om te voorkom dat dit gebeur.
Artikel 92(2) van die Grondwet bepaal dat kabinetslede individueel en gesamentlik verantwoordbaar is aan die parlement.
Dit beteken nie dat parlement bloot kan terugsit en wag vir die uitvoerende gesag om op te tree oor belangrike sake nie. Hulle moet toesien dat daar opgetree word.
Die vorige speaker van die Nasionale Vergadering (NV), Thandi Modise, het die mense van Suid-Afrika verlede jaar voor die Zondo-kommissie om verskoning gevra dat die parlement nie opgetree het ná bewering oor staatskaping nie.
Net só het die ANC gestem teen die privaatlid-wetsontwerp oor die Rampbestuurswet wat die VF Plus (dr. Pieter Groenewald) in 2020 ingedien het.
Dié wetsontwerp se doel was om die magte van die minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, in te perk om die ramptoestand onbepaald te verleng.
Dit sou vereis dat die minister, soos in die geval van ’n noodtoestand, ná 21 dae toestemming van die NV moes kry om die ramptoestand te verleng.
Die NV sou ook nuwe regulasies aangaande die ramptoestand moes bespreek om daaroor te besluit.
Ander lande het nie eens bepaalde wette om optrede oor ’n ramptoestand te rig nie. Noodtoestandwette word daarvoor gebruik.
Dié ANC het aangevoer dat die wetsontwerp nie “wenslik” is nie en het die minister sodoende vrye teuels gegee om self te besluit oor die ramptoestand.
Daardeur het die ANC gesê hy het nie die behoefte om die uitvoerende gesag verantwoordbaar te hou nie.
Deur dié privaatlid-wetsontwerp wou die VF Plus sy grondwetlike plig uitvoer om die uitvoerende gesag verantwoordelik te hou.
Die ANC het dit gekeer. Dié party laat die mense van Suid-Afrika keer op keer op keer in die steek. Die land verdien beter as die ANC.