(Begrotingsdebat in parlement: Openbare werke en infrastruktuur)
Waar dit by mooi woorde en indrukwekkende beloftes kom, is daar sekerlik min ander regerings in die wêreld wat vir die ANC kan kers vashou. Net jammer hy misluk ewe skouspelagtig met die uitvoering daarvan.
Kyk byvoorbeeld wat beloof die departement van openbare werke en infrastruktuur in sy visie vir dienslewering: “’n Betroubare keuse vir innoverende batebestuur en gehalte infrastruktuurlewering vir volhoubare ekonomiese groei.”
En sy missie: “Om strategiese rigting- en kwaliteitsdienste te bied vir innoverende en pro-aktiewe sosio-ekonomiese infrastruktuurlewering en die onderhoud van openbare bates terwyl die omgewing en die kulturele en historiese erfenis beskerm word om veiliger gemeenskappe te ontwikkel vir volhoubare groei.”
Nie minder nie as agt wette rig die mandate hiervoor terwyl die departement se eie waardevoorskrifte onder meer professionalisme, goeie dienslewering, integriteit, betroubaarheid en doeltreffendheid insluit.
Die realiteit skets egter ‘n totaal ander prentjie van die departement wat ten beste opgesom kan word in net twee woorde: Korrup en onbevoeg.
Jaar ná jaar wys die VF Plus daarop dat geen belofte enigiets beteken sonder verantwoording nie.
Solank as wat weggekyk word van korrupsie en die skaamtelose beskerming van kaders, soos uitgewys is met die Beitbrug-grensdraadskandaal, sal Suid-Afrika al hoe dieper in die moeras van wanhoop wegsak.
Geen projek of plan, selfs met die beste bedoelings, kan in sulke omstandighede suksesvol volbring word nie.
Sedert 2019 het die regering hoog opgegee oor infrastruktuur-ontwikkeling. Pres. Cyril Ramaphosa het gereeld gespog met kongresse waar gewaande beleggers miljarde rande beloof het.
Hierdie miljarde het ewe min gerealiseer as die departement se beloftes oor dienslewering. Die VF Plus kan hieroor net sê: Geen belofte het al ooit ‘n sent in die bank beteken nie.
Intussen stort infrastruktuur in duie. Paaie word daagliks gevaarliker en bates soos geboue word nie in stand gehou nie.
Die uitgebrande oorblyfsel van die land se eens trotse parlementsgebou dien in hierdie verband as voorbeeld van die ANC se twyfelagtige prestasie.
Terwyl alles op ‘n glybaan van agtergang is, ly die minister, Patricia de Lille, aan illusies van grootsheid soos haar plan om grondpaaie in die land te laat plavei. Daar word ook beplan om 96 brûe in al nege provinsies te bou.
Dit is ‘n ope vraag hoe ver hiermee gevorder gaan word.
Dit gebeur terwyl broodnodige infrastruktuur soos paaie, geboue, skole, hospitale, klinieke, howe en polisiekantore nie die nodige aandag kry nie.
Die departement en die regering se goue plan oor infrastruktuur in Suid-Afrika kom nie van die grond af nie. Of die 2022/23-begroting van R8.55 miljard enigiets hieraan sal verander, is sekerlik te betwyfel.
Suid-Afrika en sy mense verdien beter as die ANC.


