Die VF Plus is bekommerd oor die gebrek aan vordering aangaande 'n verdoemende Artikel 106-verslag wat vandag reeds 102 dae gelede oor die Dipaleseng-plaaslike munisipaliteit (Balfour, Greylingstad, Grootvlei) uitgereik is.
Mpumalanga se voormalige LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Busisiwe Shiba, het ‘n Artikel 106-ondersoek in terme van die Munisipale Stelselswet aangevra na beweerde onreëlmatighede met die toeken van tenders en administratiewe foute soos onder meer foutiewe salarisuitbetalings en ‘n algehele gebrek aan bestuurstoesig.
Dit blyk dat die ANC-beheerde munisipaliteit die verslag probeer stuit en geen aanbevelings van die voormalige LUR vir Cogta uitvoer nie.
In die verslag wat in Maart vanjaar tydens ‘n raadsvergadering aan raadslede verskaf is, maar na die vergadering weer teruggeneem is, word verskeie amptenare betrek by die onreëlmatige betaling van R53,8 miljoen rand aan sewe maatskappye.
Daar is wel 'n subkomitee aangestel om die aanbevelings te implementeer, maar dit sluit raadslede in wat by die ongerymdhede betrek word.
Die subkomitee het tot dusver geen terugvoer oor vordering aan die raad verskaf nie.
Die departement van finansies is gevra om teen 31 Maart berekeninge van finansiële verliese aan die raad te verskaf, maar dit het nog gebeur nie. Dit blyk dat die Dipaleseng-raad nie in staat is om sy eie besluite af te dwing nie.
Bronne by die munisipaliteit het aan die VF Plus gesê dat die regsfirma wat gelde van individue moet invorder en strafregtelike stappe moet instel ingevolge die verslag, sy dienste gestaak het weens wanbetaling.
Die VF Plus sal Cogta weer betrek om toesig te hou oor die proses.
Indien die raad nie die aanbevelings kan uitvoer nie, moet die provinsiale departement die funksie oorneem.