Die ANC en EFF misbruik die beginsel van gewillige koper/gewillige verkoper as rookskerm vir die ware redes waarom grondhervorming misluk, dit is eintlik die onbevoegdheid en korrupsie onder amptenare in die grondhervormingsproses, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.
Dr. Groenewald het die ANC en die EFF vandag in die parlementêre debat oor die versnelling van grondhervorming ook gewaarsku dat dit uiters gevaarlik en onverantwoordelik is om te dreig dat grond sonder vergoeding van wettige eienaars afgevat kan word aangesien so ‘n situasie selfs tot ‘n burgeroorlog kan lei.
Volgens dr. Groenewald maak hierdie retoriek oor grondgryp sonder vergoeding dit duidelik dat daar ‘n verkiesing op pad is in Suid-Afrika en dat die tema van daardie verkiesing grond gaan wees. Hy sê dit wil voorkom of daar tans ‘n kompetisie tussen die ANC en die EFF is oor wie die meeste beloftes oor grond aan voornemende kiesers kan maak.
“Dit is nie waar dat wittes die grond in die land net deur oorlog van swartes afgeneem het nie. In baie gevalle is grond aan Voortrekkers gegee en geruil.
“Daar is tans meer as 20 000 plase in die ope mark in die land waar die prys tot 20% goedkoper as die markwaarde is weens die droogte. Dit dien as bewys dat klagtes teen die gewillige koper/gewillige verkoper-beginsel bloot misbruik word as verskoning oor die ware redes waarom grondhervorming misluk. Hierdie redes is onbevoegdheid en korrupsie onder amptenare.
“Boere is bereid om met die proses te help. Hulle is bereid om mentorskap te gee en hulle doen dit reeds. Daar word egter nie gebruik gemaak van hierdie welwillendheid van die boere in besonder waar dit gaan oor landbougrond nie,” sê dr. Groenewald.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403