Die voortslepende ANC/EFF-faksiegevegte in die Ditsobotla-plaaslike munisipaliteit dreig om die reeds beleërde dorpe, Lichtenburg en Coligny weer in totale chaos te dompel.
In ‘n bykans herhaling van vroeëre insidente, weier die onlangs afgedankte munisipale bestuurder, Olaotse Bojosinyane, om sy afdanking te aanvaar. Alhoewel die arbeidshof in sy guns beslis het om weer aangestel te word het die munisipaliteit teen die beslissing geappelleer. Die munisipale raad het vandag tydens ‘n dringende raadsitting die vroeëre besluit om hom af te dank en met die appèl voort te gaan, bekragtig.
Dit het intussen aan die lig gekom dat Boyosinyane en sommige van sy politieke makkers, sy private sekuriteitswagte en ondersteuners gisteroggend by die munisipaliteit opgedaag het en geëis het dat hy sy pos opneem. Toe hy toegang geweier is, is die straatkruising by die munisipaliteit versper, die gebou met bottels bestook en skote afgevuur. Twee persone is gewond waarvan een met ‘n ernstige wond in sy bors in die hospitaal opgeneem is.
In ‘n verdere verwikkeling het dit aan die lig gekom dat hy daarna na Mahikeng gereis het en met sommige ANC- en EFF-raadslede van Ditsobotla vergader het waar ene Molefe Morutse as die nuwe burgemeester in die plek van die wettig verkose Mazwi Moruri ” verkies” is.
Sulke blatante wetteloosheid wat die gemeenskappe van Ditsobotla reeds vir jare teister is ‘n klad op alle vlakke van regering in Suid Afrika. Die feit dat daar ná jare steeds geen doeltreffende optrede teen hierdie boefagtige elemente in Lichtenburg en omstreke is nie, maak ‘n karikatuur van wetstoepassing in Suid-Afrika.
Die VF Plus in Noordwes het reeds by herhaling oproepe tot doeltreffende stappe deur die provinsiale, sowel as die nasionale regering gedoen, sonder enige volhoubare resultate.
Die VF Plus sal in ‘n dringende skrywe aan die premier, Lazarus Mokgotsi weer daarop aandring dat hy daadwerklik leiding neem om die wetteloosheid en endemiese korrupsie in Ditsobotla te stop.
Die VF Plus sal ook met die provinsiale leierskappe van die ANC en EFF in gesprek tree en hulle daarop wys dat die optrede van hul verteenwoordigers in Ditsobotla die hele gemeenskap se toekoms in gevaar stel en hul welsyn ondermyn.


