Die wanbestuur van die ANC-regering in Mpumalanga word gesien in die haglike en vervalle toestand van sy munisipaliteite.
‘n Aanbod van die VF Plus aan die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), mnr. Speedy Mashilo, om kundige hulp te bied met die bestuur van hierdie munisipaliteite, is egter van die hand gewys.
Mnr. Mashilo het ook ontken dat die meeste munisipaliteite in die provinsie swak bestuur word.
Tog word die meeste munisipaliteite in Mpumalanga gekenmerk deur mislukte dienslewering weens swak finansiële bestuur en ‘n gebrek aan die nodige vaardighede en vermoëns soos dit in verslae van die ouditeur-generaal (OG) uitgewys word.
Dit vereis deurlopende ingrypings om bestuur en dienslewering regoor die provinsie te verbeter.
Die probleme sluit in lewensgevaarlike paaie, swak gesondheidsorg, werkloosheid, die uitwerking van beurtkrag op dienslewering en die rioolbesoedeling van waterbronne wat verreikende gesondheids- en omgewingsgevare inhou.
Luidens die jongste OG-verslag oor Mpumalanga het die provinsie stagnante oudituitkomste in 2023-’24 gehad. Sommige departemente het effe verbeter terwyl ander agteruitgegaan het.
Kwessies soos onstabiliteit in sleutelposisies, gebrek aan robuuste finansiële beheermaatreëls en ‘n versuim om aan vorige waarskuwings van die OG aandag te gee, is uitgelig.
Die verslag het ook beklemtoon dat hoewel sommige departemente hul prestasieverslaggewing verbeter het, ander steeds nie geloofwaardige verslae gepubliseer het nie, wat aanspreeklikheid moeilik maak.
Hoë vlakke van onreëlmatige, vrugtelose en ongemagtigde uitgawes is kommerwekkend. Dit is veroorsaak deur korrupte aktiwiteite sowel as ondoeltreffendheid in die verkrygingsproses.
Hierdie kwessies word vererger deur onkundige amptenare en ‘n indiensnemingsproses wat gekenmerk word deur kaderontplooiing eerder as meriete.
Dit is van kardinale belang dat bogenoemde probleme dringend aangespreek word en nie ontken word nie.
Sonder die infrastruktuur en basiese dienste wat munisipaliteite behoort te verskaf – kritiek vir die skep van ’n gesonde beleggingsklimaat – kan plaaslike ekonomiese ontwikkeling nie plaasvind nie.
Die ANC-regering het egter herhaaldelik gewys dat hy nie daartoe in staat is nie.