Die finansiële vernietiging van ‘n finansieel-gesonde Newcastle-munisipaliteit binne enkele jare onder ANC-beheer, is sonder twyfel tekenend van die agteruitgang en verval van feitlik alle munisipaliteite wat die ANC beheer.
Die ANC het Newcastle in 2009 oorgeneem met geen korttermyn-skuld nie en met kontantreserwes van R270 miljoen. Teen Junie 2013 was die kontantreserwes uitgewis en die geld is hoofsaaklik gebruik vir bedryfsuitgawes.
Tussen 2012 en 2015 het die munisipaliteit R544 miljoen by ABSA en die Ontwikkelingsbank van Suid-Afrika (OBSA) geleen ten spyte van teenkanting van die opposisie en waarskuwings dat die munisipaliteit die lening nie sou kon terugbetaal nie.
Teen Junie vanjaar (2019) het onbefondsde bedryfslaste R876 miljoen beloop, skuld aan Eskom R195 miljoen en aan Uthukela-Water R95 miljoen.
Die oorbesteding van die begroting oor die afgelope vyf jaar het gelei tot 'n kontanttekort van R849 miljoen vir 2018/19 vanaf ‘n tekort van R422 miljoen in 2015/16.
Nasionale tesourie het reeds kritiek op die situasie in Newcastle uitgespreek en gesê die oorbesteding van die munisipale begroting veral oor die afgelope twee jaar, is totaal onaanvaarbaar en ver bo die gemiddelde in KwaZulu-Natal en die res van die land.
Oor die afgelope twee jaar het vrugtelose en verkwiste uitgawes tot so ‘n mate buite beheer gestyg dat net die rente op die agterstallige rekening van die inkomstediens (SARS) vir 2018/19, R25 miljoen beloop het.
Die bate/laste-verhouding vir die huidige jaar het vir die eerste keer onder ‘n faktor een gedaal wat beteken die munisipaliteit is tegnies bankrot.
Die VF Plus het gister in ‘n bespreking van die aangeleentheid in die raad gesê dit is kommerwekkend dat hierdie kwessies jaar na jaar in die verslag van die ouditeur-generaal (OG) gerapporteer word sonder dat daadwerklike stappe gedoen word of mense aanspreeklik gehou word.
Die VF Plus is veral besorg oor die kontantposisie van die munisipaliteit aangesien dit jaar na jaar verswak. Op 31 Desember 2018 het sy totale skuld reeds R1,295 miljard beloop. Skuld aan Eskom was in Februarie 2018 R71.332 miljoen en het teen 31 Januarie vanjaar toegeneem tot R192.048 miljoen.
Die munisipaliteit moet nou ingevolge ‘n hofbevel R30 miljoen per maand aan Eskom terugbetaal om sy skuld te delg en nou word Eskom verkwalik vir die munisipaliteit se geldprobleme.
Die VF Plus wil dit duidelik stel dat die probleme die munisipaliteit se eie maaksel is. Dit is gebore uit onbevoegdheid en vermorsing omdat daar geen verantwoordbaarheid hoegenaamd is nie en geen poging aangewend is om nie-betalers vir dienste tot orde te roep nie.
Die VF Plus sal aanhou om die raad op hierdie onbevoegdheid en argeloosheid te wys sodat daar self verantwoordelikheid en eienaarskap van die probleem geneem kan word om die munisipaliteit tot voordeel van al sy inwoners oordeelkundig te bestuur.
Kontaknommer: 082 388 3000