Altesame 237 amptenare verbonde aan die Emfuleni-munisipaliteit en Sedibeng-distriksmunisipaliteit, se skuld aan uitstaande diensterekeninge beloop glo R9,5 miljoen.
‘n Amptenaar van die Sedibeng-distriksmunisipaliteit se munisipale rekening is na bewering R464 000. Hy woon in die Rust-ter-Vaal-woonbuurt waar amptenare nie wanbetalers se krag kan sny nie omdat inwoners hulle gereeld met klippe bestook en dreig om munisipale voertuie aan die brand te steek.
Emfuleni-munisipaliteit het onlangs personeel aangemoedig om vrywillig ‘n aftrekorder te teken om sodoende hul uitstaande skuld aan die munisipaliteit te vereffen.
Die VF Plus gaan druk plaas op beide munisipaliteite om nie-betalende amptenare en inwoners se elektrisiteitsvoorsiening te stop totdat hul rekeninge ten volle vereffen is.
Emfuleni-munisipaliteit, wat verlede jaar onder gedeeltelike administrasie geplaas is, skuld Eskom 2,2 miljard en Randwater R435 miljoen.
Emfuleni se geldkoffers is leeg as gevolg van wanadministrasie, korrupsie en swak leierskap.
Kontaknommer: 076 616 2124