fbpx
Vryheidsfront Plus

Afrikaans word geboelie en VF Plus sê slaan terug

Dit is duidelik dat die LUR van onderwys in Gauteng, mnr. Panyaza Lesufi, Afrikaans misbruik as ‘n rookskerm om sy departement se eie onbevoegdheid te verbloem en sodoende rassekonflik veroorsaak, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Dr. Groenewald sê Lesufi se tirade teen Afrikaans, asook die Grondwethof se uitspraak teen Afrikaans rakende die Universiteit van die Vrystaat, bewys dat Afrikaans geboelie word, en die VF Plus sê dit het tyd geword dat Afrikaanssprekendes hul stem dikmaak en begin terugslaan.

Hy sê die VF Plus het om hierdie rede vandag ‘n strafregtelike klag ingedien teen die onderwysdepartement se streekdirekteur vir Sedibeng-Oos, Criselda Makhubela, na aanleiding van die hofuitspraak in die Hoërskool Overvaal-saak.

“Die klagtes is dwarsboming van die gereg, intimidasie en aanhitsing om meineed te pleeg deurdat Makhubela luidens die hofuitspraak die skoolhoofde van die Engelse hoërskole Phoenix en Jan Smuts geïntimideer het om hul beëdigde verklarings te verander deur te sê die skole het nie plek vir ekstra leerlinge nie terwyl hulle aanvanklik gesê het daar is plek.

“Die ANC en EFF se ontwrigtende en skoorsoekende optrede vandag by die Hoërskool Overvaal is onaanvaarbaar. Die VF Plus wil dit duidelik stel dat elke ouer en individu die grondwetlike reg het om hulself en hul kinders te beskerm.

“Die EFF en die ANC wil van kinders politieke kanonvoer maak en misbruik om verlore aansien te probeer herwin. Die VF Plus is sterk gekant daarteen dat kinders as speelbal vir politieke doeleindes gebruik word.

“Kinders moet beskerm word om in ‘n vreedsame omgewing hul skoolonderrig te ontvang. Die EFF en die ANC ondermyn die opvoeding van leerlinge met hul uitlokkende gedrag en stel ‘n swak voorbeeld oor hoe geskille opgelos moet word.

“Ek doen ‘n beroep op ouers om hul regte met waardigheid te beskerm, maar om nie reg in eie te neem en die slagoffers van kwaadwillige uitlokking te word nie,” sê dr. Groenewald.

Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.