Vrydag die dertiende het inderdaad geen goeie gevolge vir die die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule, ingehou nie en hy het vandag eindelik in die hof in Bloemfontein verskyn nadat ’n wolk van ersntige misdaadbeweringe al jare oor sy kop hang.
Die feit dat ’n hoë borgtog van R200 000 aan Magashule toegestaan is, wys dat die klagte teen hom baie ernstig is en dat die staat van mening is hy het ’n sterk saak teen Magashule.
Dit voorspel ook niks goed vir Magashule dat ‘n voormalige persoonlike assistent, me. Moroadi Cholota, as staatsgetuie teen haar voormalige werkgewer gaan getuig nie.
Cholota het onlangs voor die Zondo-kommissie getuig oor haar betrokkenheid in die asbes-oudit-aangeleentheid.
Die VF Plus hoop dat die vervolgingsgesag sy ondersoekwerk deeglik gedoen het en dat hy met ’n deeglike en volledige saak na die hof gaan om seker te maak dat geregtigheid geskied.
Staaskaping het die land groot skade berokken en dit is gepas dat die beskuldigdes, ook Magashule, die hoogste moontlike straf opgelê word vir hul plundering van die staatskas in die Vrystaat indien hulle skuldig bevind word.