Ná nog ‘n voorval naby Brits in Noordwes waar motoriste aangeval en beroof is, gaan die VF Plus ‘n skrywe aan die minister van polisie rig en hom versoek om maatreëls in werking te stel om paaie in dié gebied te beveilig.
In die jongste voorval is ‘n paartjie van Ladybrand in die Vrystaat en hul Amerikaanse vriend op die N4-hoofweg naby Brits aangeval en beroof nadat hul aanvallers klippe in die pad gepak het wat een van die motor se bande laat bars het.
Nadat hulle stilgehou het om die band om te ruil, het gewapende aanvallers by hulle opgedaag. Al drie insittendes kon daarin slaag om te vlug, maar die rowers het nogtans alles in die voertuig geroof.
Daar was verlede jaar verskeie voorvalle in die omgewing van Brits waar motors met klippe bestook is en wat amper tot lewensverlies gelei het. Die polisie erken self dat daar al drie aanvalle net in hierdie week was.
Die verskynsel dat klippe op ‘n snelweg gepak word om motors te beskadig en die insittendes te beroof, is kommerwekkend.
Daar kan nie toegelaat word dat misdadigers en rowers paaie in die provinsie, veral nie ekonomiese roetes of elders in die land, onbegaanbaar maak en motoriste sodoende gyselaar hou deur misdaad nie.
Dit sal dien as bewys dat die ANC-regering nie in staat is om deur polisiëring die mense van Suid Afrika veilig te hou nie.
Die VF Plus sal die minister onder meer versoek om gevaarsones te bepaal en te monitor en om die paaie sigbaar en gereeld te patrolleer.
Kontaknommer: 079 409 8342