"Voorkoming is beter as genesing, en die Wysigingswetsontwerp op Voorskrifte in Siviele en Strafregtelike Sake, in die besonder om geweld teen vroue en kinders te beperk, slaag nie in hierdie doel nie," sê Jaco Mulder, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van justisie.
"Suid-Afrika bevind hom tans in 'n ander, ernstige epidemie waar vroue en kinders hoofsaaklik die slagoffers is. Dit is die epidemie van seksuele misdrywe en geweld.
"Onlangse misdaadstatistiek toon aan dat 52.420 seksuele misdrywe in 2019 in die land plaasgevind het – 'n toename van 4,6% sedert 2018. Dit blyk hieruit duidelik dat die regstelsel nie ‘n doeltreffende voorkomende maatreël teen hierdie soort misdaad is nie.
"Dit is belangrik om daarop te let dat 'n wysiging van die statutêre bepalings rakende die voorskrifte van siviele eise en strafregtelike vervolging weens seksuele misdrywe nie die siekte van geweld teen vroue en kinders genees nie."
"Dit behandel die simptome deur te verseker dat slagoffers die geleentheid kry om vergoed te word en dat oortreders ondanks ‘n lang tydsverloop steeds vervolg kan word.
"Dit bied indirekte beskerming aan kinders wat die slagoffer van enige seksuele misdryf was deur hulle toe te laat om na jare steeds geregtigheid te vind. Hierdie wetsontwerp is wel 'n stap in die regte rigting, maar is ongelukkig bloot reaktief van aard.
"Die tyd het aangebreek dat Suid-Afrika met proaktiewe oplossings en wetgewende raamwerke vorendag kom wat die oorsaak van geweld teen vroue en kinders sal uitlig en behandel," sê Mulder.