fbpx
Vryheidsfront Plus

Wysigingswetsontwerp op Verkiesingsake is onverbloemde gulsigheid van die ANC wat nie sal slaag nie

Die Wysigingswetsontwerp op Verkiesingsake is ʼn onverbloemde poging van die ANC om nog miljoene rande van belastingbetalers se geld vir die regerende party se uitgedunde beursie te bekom.

Dit sal nie slaag nie omdat dit lynreg indruis teen die voorskrifte van die Grondwet en omdat Suid-Afrikaners dit op elke vlak ten sterkste sal teenstaan, tot in die Grondwethof.

Dit herinner aan die poging van ʼn swetende Nathi Nhleko, voormalige minister van polisie, om die land te probeer oortuig dat die swembad by Nkandla eintlik ʼn brandpoel is.

Net so probeer dr. Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, kliphard om die land te oortuig dat die beoogde wetswysiging onskuldig en in belang van demokrasie en die land is.

Dit is net so min die geval as wat ʼn swembad ʼn brandpoel is en dit sal ewe skouspelagtig in die minister se gesig ontplof.

Wat befondsing van onafhanklike kandidate aanbetref het die Grondwethof nog nooit enige melding daarvan gemaak nie. Die Grondwet self het ook duidelik riglyne oor die aangeleentheid.

Die doel van artikel 236 van die Grondwet is om veelparty-demokrasie te bevorder. Die voorstelle van die ANC met die wetswysiging sal net die teenoorgestelde doen en slegs een party bevoordeel, naamlik die ANC.

Die Grondwet maak dit verder duidelik dat daar befondsing vir politieke partye is wat verteenwoordiging in wetgewers het. Nie vir onafhanklike kandidate wat net deelneem aan ʼn verkiesing nie.

Dit beteken iemand moet eers verkies word voordat daar sprake van befondsing kan wees.

Die Grondwet maak dit voorts duidelik dat befondsing op ʼn “billike en proporsionele” wyse toegeken moet word. Die ANC het ná 1996 hierdie formule omgedraai met proporsioneel eerste en billikheid tweede.

Daardie proposionele toewysing was boonop 90% van die somtotaal wat beteken het die ANC het tot enkele jare gelede die grootste meerderheid van die befondsing gekry. Daar was geen ware billikheid hoegenaamd in hierdie formule nie.

Dit het in 2018 ingevolgde die Wet op die Finansiering van Politieke Partye verander met ʼn formule van twee derdes proporsioneel en een derde billik wat veel gedoen het om die speelveld vir alle partye gelyker te maak en ware billikheid bevorder het.

Nou wil die ANC terugkeer na die vorige model onder die dekmantel van befondsing vir onafhanklike kandidate.

Die ANC speel met vuur en bring die komende verkiesing in die gedrang. Hy moet nie vir een sekonde dink ander politieke partye en burgerlike organisasies sal net hande gevou sit terwyl die ANC blatant probeer om weer die totale verkiesingsgeldkoek vir homself op te eien nie.

Die ANC moet pasop dat die howe moontlik wel uitvoering kan gee aan die voorskrifte van die Grondwet en besluit om ʼn waarde van 50% elk aan die billike en proporsioneel toe te ken.

En omdat die ANC se eie geldsake net so haglik is as dié van die land wat hy dertig jaar regeer het, sal hy dan nie in staat wees om ʼn verkiesingsveldtog te voer nie.

Hierdie is desperate spronge van ʼn desperate party in ʼn poging om vir oulaas sy hand in die land se geldkoffer te druk.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.