Die VF Plus het die Vrystaatse premier, Mxolisi Dukwana, gewaarsku om maatreëls in plek te stel om watertekorte te voorkom wanneer die Lesotho Hoogland-waterprojek in Oktober 2024 sluit vir herstelwerk.
Veral Oos-Vrystaatse dorpe kan geraak word.
Herstelwerk aan dié projek sal watertoevoer na dorpe in die Dihlabeng-, Mafube- en Nketoana-plaaslike munisipaliteite beïnvloed.
Die VF Plus ontvang reeds klagtes van Reitz-inwoners wat aandui dat hulle tans watertekorte ervaar, terwyl waterlekkasies wat aangemeld word, ook nie herstel word nie.
Die Nketoana-plaaslike munisipaliteit bedien Arlington, Lindley, Petrus Steyn en Reitz.
Dié munisipaliteit het inwoners verlede week in kennis gestel dat waterbeperkings ingestel kan word wanneer die projek in Oktober sluit.
Dukwana, destydse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), het in September 2022 aangedui dat Nketoana met herstelwerk aan pypleidings sou begin.
Dit het duidelik nie plaasgevind nie. Inwoners meld waterlekkasies aan, maar dit word nie herstel nie.
Die VF Plus het in die Vrystaatse wetgewer gewaarsku teen ʼn “Dag Zero” indien die munisipaliteite nie genoeg voorsorg tref en seker maak inwoners word nie deur die sluiting van die projek benadeel nie.
Die VF Plus sal die premier se aksies in die verband monitor.
Herstel en bou is nodig in die Vrystaat waar te veel dorpe vir te lank sonder water is.