fbpx
Vryheidsfront Plus

Mogale City se onvermoë om diensverskaffers te betaal laat sakepark sonder krag

Die Mogale City-plaaslike munisipaliteit (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift) se onvermoë om diensverskaffers betyds te betaal, het daartoe gelei dat die Featherbrook-sakepark meer as tien dae sonder krag is.

Die spesifieke kontrakteur wat verantwoordelik is vir die herstel van die kragtoevoer na die sakepark het geweier om voort te gaan met herstelwerk totdat die munisipaliteit sy uitstaande rekening vereffen.

Die VF Plus het sedert die kragonderbreking op 2 Maart, wat deur ʼn stukkende kragkabel veroorsaak is, aanhoudende druk op die departement van elektrisiteit geplaas om te probeer vasstel wanneer die probleem opgelos gaan word.

Die party het ook ʼn brief gestuur aan die munisipale bestuurder, Makhosana Msezana, om dringend aan die probleem aandag te skenk.

Ná die volgehoue druk het die hoof van die elektrisiteitsdepartement, Given Masuka, erken die munisipaliteit het Maandag eers sy agterstallige rekening aan die kontrakteur betaal. Hy is egter nie seker wanneer daar met herstelwerk begin sal word nie.

Tans verskaf ʼn kragopwekker tussen 7:30 tot 11:30 krag aan tien winkels en 22 kantore en dan weer vanaf 13:30 tot 17:30.

Die kragopwekker word tussen 11.30 en 13:30 toegelaat om af te koel.

Volgens die sakepark se bestuur is dit nodig omdat die kragopwekker verlede week oorverhit het.

Ondernemers was ook verlede week vir ʼn verdere tydperk sonder krag omdat die dieselverskaffer nie betyds die brandstof afgelewer het nie. Sedert die kragonderbreking is reeds R50 000 se diesel gebruik.

Sake-ondernemings is die slagaar van Mogale City se ekonomie en dit is die raad se plig om diensverskaffers betyds te betaal.

Die onvermoë van Mogale City om die gebied se infrastruktuur in stand te hou, kan nie langer geduld word nie. Belastingbetalers verdien beter as die ANC.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.