"Die jongste werkloosheidsyfer vir die eerste drie maande van 2020 van 30,1% kom as geen verrassing nie. Die ANC-regering en sy departement van arbeid, wie se mandaat uitgebrei is na werkskepping, het gefaal in sy doelwit om werkskepping in die land te stimuleer en te bevorder," sê Heloïse Denner, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van arbeid.
"Dit is uiters kommerwekkend dat die werkloosheidskoers met ‘n volle 1% gestyg het sedert die vierde kwartaal van 2019. In ag genome die vooruitskatting van nasionale tesourie dat sowat 1,8 miljoen werke verlore kan gaan weens die Covid-19-pandemie is hierdie die voortsetting van ‘n skerp afwaartse spiraal wat deur swak regeringsbeleid, verkeerde doelwitte en ‘n algehele gebrek aan beplanning en implementering deur die departement van arbeid en werkskepping bevorder sal word.
"Tydens ‘n presidensiële werksberaad in Oktober 2018 is die doelwit gestel om 275 000 werksgeleenthede per jaar te skep. Die doelwit is nie behaal nie en die werkloosheidskoers het gevolglik gestyg tot die hoogste sedert 2002."
"Oorregulering deur middel van wetgewing soos gedwonge Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) en Regstellende Aksie (RA) moet afgeskaf word en strukturele hervorming is nou nodig om die ekonomie van die land te stimuleer en werkskepping deur middel daarvan te bevorder.
"Die departement van arbeid en werkskepping en in besonder die minister moet sy geykte retoriek, dat die werkgewer alewig die sondebok is, dadelik staak. Samewerking met die formele sektor is nou nodig om werkskepping te bevorder, aangesien daar geen werk of werkskepping sonder werkgewers kan bestaan nie," sê Denner.