Die feit dat eienaarskap van residensiële eiendomme in Refilwe naby Cullinan nie aan inwoners oorgedra word nie, beteken dat inwoners nie erfbelasting hoef te betaal nie en dit ontneem die Tshwane-metro van hierdie broodnodige inkomste.
‘n Ondersoek van die VF Plus het aan die lig gebring dat sowat 10% van dié eiendomme nog in die naam van Tshwane-metro geregistreer is. ‘n Steekproef met 100 eiendomme in Refilwe het aangetoon dat 29 in die naam van die metro geregistreer is.
Terwyl die huidige koalisieregering telkens die skuld op die Gautengse departement van behuising plaas omdat die titelaktes nie aan die wettige begunstigdes uitgereik word nie, faal dieselfde administrasie om die nodige stappe te neem in sy eie jurisdiksiegebied.
Dit skep ‘n skewe beeld van die metro se bateregister. Aangesien die eiendomme se waarde miljoene rande beloop, kan dit nie as bates van die metro beskou word nie en beïnvloed dit ook die metro se kredietwaardigheid wat die aangaan van lenings negatief raak.
Die VF Plus dring daarop aan dat die metro se departement van eiendomme ‘n dringende oudit van eiendomme in Refilwe doen om regmatige eienaarskap te bekragtig en gevolglik erfbelasting te in om die metro se inkomste aan te vul.
Ongeag die VF Plus se aanbeveling dat die nodige oudit en regstellings dringend gedoen word, het die huidige koalisieregering teen die voorstel gestem en die DA buite stemming gebly. Hiermee het die huidige koalisieregering laat blyk hoe onbelangrik hulle eiendomsreg in hulle eie gemeenskappe ag.


