Groot gedeeltes van Potchefstroom was die afgelope naweek sonder water weens reuse lekkasies in toevoerpype.
Duisende liter drinkwater het uitgestroom by nege groot lekkasies tussen die Potchefstroomdam-watersuiweringswerke en die Ventersdorppad-opgaartenk. Elf woongebiede, bykans die helfte van die dorp, is geraak.
Dit is ʼn skande dat die ANC-beheerde JB Marks-munisipaliteit telkens krisisbestuur moet toepas om pypleidings te herstel weens swak of geen beplanning en instandhouding van die waterinfrastruktuur nie.
Die VF Plus het al by herhaling uitgewys dat die instandhouding en opgradering van die dorpe (Potchefstroom en Ventersdorp) se waterinfrastruktuur geprioritiseer moet word.
Die herstelwerk aan uitgediende infrastruktuur is ook nie kostedoeltreffend of volhoubaar nie.
Boonop lei die talle onderbrekings in watertoevoer gereeld tot soms gewelddadige diensleweringsbetogings waar belangrike hoofroetes soos die N12 met brandende bande versper word.
Die VF Plus in JB Marks sal voortgaan om druk toe te pas dat professionele instandhoudings- en ontwikkelingsplanne opgestel en geïmplementeer word.
Dit is belangrik dat kiesers op 29 Mei met hul stemme saamstaan om te verseker dat die ANC uit regering verwyder word en vervang word met ʼn koalisieregering waarvan die VF Plus deel vorm.
Saam kan ons herstel en bou.