Mapule Veronica Mafolo, ‘n ANC-parlementslid van Noordwes, is Vrydag deur die Vryburgse veediefstal-eenheid by die dorp se veilingkrale vasgetrek. Sy en twee mede-beskuldigdes is in hegtenis geneem vir die diefstal van twee kalwers wat hulle vermoedelik by die veiling van die hand wou sit.
Die ANC stel weereens ‘n voorbeeld van misdadigheid, vergrype en swak leierskap vir die hele land, sê Michal Groenewald, leier van die VF Plus in Noordwes.
Groenewald sê dit is ‘n absolute skande dat ‘n persoon wat lid van een van die hoogste gesagstrukture in die land en ‘n prominente lid van die regerende party is, haarself moontlik skuldig maak aan iets so ernstig soos veediefstal.
Mafolo en haar mede-beskuldigdes het Maandag in die landdroshof op Schweizer-Reneke verskyn waar sy met ‘n waarskuwing vrygelaat is terwyl haar mede-beskuldigdes elk op borgtog van R800 vrygelaat is.
“Deur haar slegs met ‘n waarskuwing vry te laat, is nie ‘n goeie begin nie. Die regbank mag onder geen omstandighede onderskeid tref en voorkeurbehandeling aan Mafolo gee bloot omdat sy ‘n LP is nie. Daar moet om hierdie rede juis strenger teen haar opgetree word.
“Die regbank en die ANC behoort ‘n voorbeeld van Mafolo te maak deur op die strengste wyse moontlik teen haar op te tree. ‘n Duidelike boodskap moet gestuur word dat misdadigheid nie geduld sal word nie.
“Veediefstal is ‘n baie ernstige misdaad en ‘n groot probleem in Suid-Afrika wat van alle kante beveg moet word. Dit is ondenkbaar dat ‘n persoon wat veronderstel is om ‘n voorbeeld te stel haarself daaraan skuldig kan maak.
“Die VF Plus sal die saak met groot belangstelling dophou wanneer die beskuldigdes weer op 15 Februarie in die hof verskyn,” sê Groenewald.