Die onwettige vlugtelinge wat hulle tans voor die kantore van die Verenigde Nasies (VN) se hoë kommissaris vir vlugtelinge in Brooklyn tuismaak, is moontlik die oorsaak van onverwerkte riool wat in die Colbyn-vleiland en die Rietfonteinspruit in Pretoria beland.
Daar is geen sanitêre geriewe vir die vlugtelinge nie en daarom maak hulle gebruik van die stormwaterdreine wat in die Rietfonteinspruit en Colbyn-vleiland vloei.
Sowat 150 vlugtelinge woon reeds sedert April voor die VN se gebou in Waterkloofweg desondanks ‘n hofbevel in Augustus vanjaar om die gebied te verlaat.
Die tydelike verblyf wat deur die Tshwane-metro aangebied is, is verwerp.
Die vlugtelinge versoek die VN om hulle te help om die land te verlaat omdat hulle nie meer veilig hier voel nie.
Die departement van binnelandse sake en die metro is tans in onderhandelinge betrokke om ‘n oplossing vir die probleem te kry.
Intussen moet die metro se departemente van industriële afvaldienste en gesondheid groot finansiële uitgawes aangaan om die terrein waar die vlugtelinge woon, skoon te maak.
Restaurante wat gebruikte olie in die stormwaterstelsel gooi, dra ook by tot die besoedeling.
Die Tshwane-metro se omgewingsbestuur-inspektoraat het restaurante in Brooklyn gewaarsku dat hulle ‘n boete van R250 000 of tronkstraf opgelê kan word vir dié oortreding.