"Die VF Plus rig hiermee 'n ernstige waarskuwing aan Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, om sy gereelde tirade teen Afrikaans en sy teistering van Afrikaanstalige gemeenskappe te staak. Dit veroorsaak onnodige polarisasie tussen gemeenskappe en kan eindelik ernstige gevolge hê," sê Anton Alberts, VF Plus-nasionale voorsitter en LPW in Gautengse wetgewer.
"Lesufi se optrede, alhoewel oënskynlik kinderagtig en tekenend van iemand met 'n ongesonde obsessie, kan soos in die geval van die Hoërskool Overvaal heeltemal handuit ruk en tot geweld lei wat kinders, onderwysers en ouers se lewens in gevaar kan stel.
Hy het onlangs weer uitgevaar teen Afrikaans deur 'n waarskuwing op twitter te rig teen die bou van nuwe persele vir Sol-tech wat in Afrikaans tersiêre onderrig verskaf.
"Die LUR maak ‘n gewoonte daarvan om Afrikaans as onderrigtaal te assosieer met rassisme, veral op twitter. Daar was talle boodskappe van Lesufi waar hy onder meer met ander persone saamstem dat Afrikaans 'n probleem op skole is en dat weggedoen moet word met die taal."
"Hy skep ook self boodskappe soos een teen die bou van die nuwe Sol-tech-kampus waar hy sonder meer aanvaar dat die Afrikaanse aard van die kampus rasseskeiding daar sal stel.
"Die VF Plus het self etlike keer teenoor Lesufi op twitter gereageer oor die feit dat hy rassisme sien waar dit nie bestaan nie waarna hy gewoonlik stil raak, net om uiteindelik weer 'n nuwe kwessie te vind waaroor hy uitvaar.
"Dis duidelik die LUR het 'n probleem teenoor Afrikaans en hy moet tot orde geroep word. Die VF Plus beplan tans stappe teen hom en sal weldra 'n verklaring in die verband uitreik.
"Die VF Plus het vroeër 'n klag teen Lesufi by die integriteitskommissaris van die Gautengse wetgewer ingedien nadat hy in 'n toespraak na wit kinders verwys het as "klein basies", 'n term wat die kinders outomaties as rassiste brandmerk. Daar word nog gewag vir die uitspraak van die kommissaris," sê Alberts.