fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus vra optrede nadat OG-verslag wys op ernstige vergrype by departement van samewerkende regering

"Die Ouditeur-Generaal (OG) het pas ‘n ouditmening uitgespreek en ‘n verdoemende verslag uitgereik wat dui op groot ongerymdhede by die departement van samewerkende regering se maatskaplike werkers-indiensnemingsprogram en die VF Plus sal vra dat die Valke ondersoek instel," sê Michal Groenewald, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van samewerkende regering.

"Dit is onaanvaarbaar dat miljarde rande se belastinggeld op uiters verdagte omstandighede verdwyn en dat niemand daaroor tot verantwoording geroep word nie. Luidens die verslag is ‘n bedrag van R2,8 miljard betrokke.

"Miljarde rande word beskikbaar gestel vir dié program om die armstes in die gemeenskap te help en die verslag van die OG dien as bewys dat dié geld op groot skaal geplunder word. Amptenare wat betrokke is, neem letterlik die brood uit die monde van die armes wat hulle moet ophef.

 

"Meer verontrustend is die feit dat die departement wat verantwoordelik is vir munisipaliteite se behoorlike funksionering, self totaal wanfunksioneel is."

 

"Die OG-verslag wys op verskeie ongerymdhede. Finansiële state is nie betyds ingedien nie en dit is deurspek van ‘basiese foute’, selfs na vorige uitwysings van die OG oor probleme.

"Spesifieke uitwysings van die OG wat volgens die VF Plus dui op ongerymdhede, is dat daar in baie gevalle geen begunstigdes vir uitbetalings gevind kon word nie, dissiplinêre stappe is nie geneem teen amptenare wat foutiewelik op getree het nie en sommige foute is aanduidend van onbevoegdheid, ‘n tekort aan oorsig en verantwoordbaarheid.

"Dit is ook duidelik dat die grootste ongerymdhede rakende uitgawes voorkom by gemeenskaps-diensprojekte. In die laaste boekjaar was alle onreëlmatige uitgawes in hierdie verband weens die nie-voldoening aan verkrygingswetgewing.

"Van die R2,8 miljard waarvoor nie behoorlike rekenskap gegee kan word nie, is R2,2 miljard aan diensverskaffers betaal waarvoor geen diens of goedere gelewer is nie. In een geval is ‘n bedrag van R1,8 miljard vir munisipale infrastruktuur verkeerdelik betaal aan ‘n verskaffer en kan dit eindig in ‘n wesenlike verlies van R1,04 miljard.

"By die gemeenskaps-diensprojek is gelde uitbetaal aan mense wat reeds oorlede is en aan staatsdienswerkers, wat beteken hulle het oënskynlik ‘n dubbele salaris ontvang.

 

"Dit is ondenkbaar dat ‘n minister, in hierdie geval Nkosazana Dlamini-Zuma, in haar pos kan aanbly nieteenstaande die totale chaos waarin die departement gedompel is."

 

"Sy moet summier met ‘n bevoegde persoon vervang word aangesien die verval van plaaslike regering in Suid-Afrika een van grootste krisisse vir die land se ekonomiese oorlewing is," sê Groenewald.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.