Die VF Plus het gevra dat die Noord-Kaapse LUR-vir vervoer en infrastruktuur, me. Fufe Makotong, ingryp met die opknapping van die pad tussen Rooiwal en Vioolsdrif in die Nama Khoi-plaaslike munisipaliteit.
Dié munisipaliteit in die Noord-Kaap met Springbok as hoofdorp, maak boere in die omgewing warm om die kraag en laat toeriste ander bestemmings kies.
Dit dwing selfs kwesbare mense om op snikhete dae na die naaste kliniek te stap aangesien die pad so swak is.
Vioolsdrif is ’n nedersetting aan die oewer van die Oranjerivier, waar die N7-roete net meer as honderd kilometer noord van Springbok teen die Namibiese grens eindig. Minder as tien kilometer wes daarvan, is Rooiwal geleë.
’n Soektog op Google Maps dui nie ’n pad tussen die twee nedersettings aan nie, maar wel ’n roete van 190km wat twee uur en 36 minute per motor behoort neem.
Vir voetgangers word ’n roete van 9,6km aangedui, wat te voet bykans twee ure behoort te neem. Stap is dus vinniger as ry.
Die roete wat vir voetgangers aanbeveel word, is egter ’n pad wat nie net bestaan nie, maar selfs oor die afgelope tien jaar drie keer met ’n nuwe gruislaag bedek is. Motoriste maak ook van hierdie roete gebruik, maar juis as gevolg van daardie gruis is die pad onrybaar. Die moedermateriaal is ’n harde, skerp leiklip, waarvan die gruis voertuigbande tot niet maak.
Die gevolge is dat toeriste wat die Oranjerivier wil verken, liewer die Namibiese roete neem.
Produsente van hoë waarde vars produkte sukkel met die vervoer van werkers en produkte en inwoners moet van Rooiwal na Vioolsdrif stap wanneer hulle die provinsiale kliniek benodig.
Om hierdie roete te teer, is nie duur as die waarskynlike voordele in ag geneem word nie.
So ’n kort roete kan die lewe red van mense vir wie gesondheidsdienste skielik bereikbaar is. Die talle kampterreine kan oor ’n veel langer roete ook die voordeel van groter toerismeverkeer geniet.
Verder kan aanplantings van tafeldruiwe, waatlemoene en ander vars produkte vir die uitvoermark vergroot.
Die VF Plus versoek daarom die LUR om die saak te ondersoek en dringend daaraan aandag te skenk tot voordeel van die Noord-Kaap se ekonomiese vooruitgang en om inwoners se lewe te vergemaklik.