Die landwye staking van gesondheidspersoneel is besig om ‘n ernstige krisis te veroorsaak met 49 instellings waar gesondheidsorg byna heeltemal tot stilstand gekom het.
Die VF Plus het die minister van gesondheid, Joe Phaahla, vandag in ‘n skrywe versoek om dringend op te tree teen stakende vakbondlede wat besig is om staats- en provinsiale hospitale landwyd erg te ontwrig.
Volgens inligting wat die VF Plus van regoor die land ontvang het, moes families van pasiënte self inspring om hulle te versorg.
In baie gevalle is pasiënte sonder enige sorg, kos of medikasie gelaat wat hul gesondheid en lewe bedreig.
Ambulanse kan in baie gevalle nie toegang kry om pasiënte wat lewensnoodsaaklike hulp nodig het na die hospitale te neem nie.
Pasiënte wat vir gewone besoeke aanmeld, word geïntimideer en gedreig en moet sonder enige behandeling terug na hul wonings.
Die VF Plus het Phaahla versoek om die minister van polisie, Bheki Cele, te betrek om toe te sien dat die publiek toegelaat moet word om behandeling te ontvang.
Daar moet streng opgetree word teen enige stakende gesondheidswerker wat die lewe van pasiënte bedreig.
Die departement van staatsdiens en administrasie wil nie toegee aan Nehawu se eise van verhogings van tussen 10% en 12% nie en volstaan by 4.7%.
Dit raak egter vir departemente, soos gesondheid, ‘n erge probleem.
Die regering moet die skuld kry vir die krisis in ag genome die haglike omstandighede waaronder gesondheidswerkers daagliks moet werk met baie min hulpmiddels tot hul beskikking.
Die huidige optrede en bedreiging van pasiënte se lewe kan egter nie geduld word nie