Die VF Plus in die Tshwane-metroraad het gevra dat ʼn taakspan aangestel word om beter toesig uit te oefen oor kontrakte wat die metro met diensverskaffers sluit.
Dié versoek volg na aanleiding van ʼn openbare rekeninge-komiteeverslag wat voor die metroraad gedien het.
Luidens die verslag is daar baie vrae rondom die Line2B-projek wat padwerke aan Lynnwood- en Atterburyweg insluit.
Die VF Plus het voorgestel dat ’n taakspan aangestel word om alle maatskappye wat met die aangewese konstruksiemaatskappy verbind word, te ondersoek.
Dieselfde direkteure van dié maatskappy word ook met die mislukte stadsaal-projek verbind.
Die party vra ‘n deeglike ondersoek na hierdie maatskappye vir moontlike ongerymdhede om beter oorsig te verseker in toekomstige kontrakaanwysings.
Die projek het in Januarie 2023 afgeskop, maar die vordering is aansienlik stadiger as verwag met slegs 12% voltooiing tot dusver.
In die raadsverslag word ook aangedui dat van die uitdagings die beperkte ervaring van die kontrakteurs is.
Die VF Plus is veral bekommerd oor die ooglopende afwykings van die beplande betonseksies, wat vrae oor die vaardighede van die kontrakteur laat ontstaan.
Die party beklemtoon die noodsaaklikheid van toenemende deursigtigheid en verantwoordelikheid in die toekenning van kontrakte. Dit is ’n kommerwekkende tendens dat tenders herhaaldelik aan dieselfde maatskappye toegeken word.
Die voorgestelde taakspan en verbeterde oorsigmeganismes sal dit ten doel hê om hierdie kwessies aan te spreek en te verseker dat openbare projekte doeltreffend en met die hoogste standaarde uitgevoer word.
Die VF Plus versoek alle belanghebbendes, insluitend mede-raadslede, die pad- en vervoerafdeling en die inwoners, om hierdie maatreëls te steun vir die verbetering van infrastruktuurprojekte in Tshwane.