Die druk wat die VF Plus die afgelope tyd op Zweli Mkhize geplaas het om voor die parlement verantwoording te doen oor sy betrokkenheid as gesondheidsminister by Digital Vibes, het sonder twyfel bygedra tot sy bedanking voor die kabinetskommeling gisteraand.
So ook die druk wat op president Cyril Ramaphosa geplaas is om die spesiale ondersoekeenheid (SOE) se verslag oor die aangeleentheid bekend te maak.
Hierdie druk het duidelik ondraaglik geword en Mkize het besluit om te bedank voor die vernedering om deur die president afgedank te word.
Die VF Plus se fokus is steeds daarop ingestel om Mkhize te laat vervolg vir sy betrokkenheid by die skandaal en die party sal nie toelaat dat sy bedanking hom vrystel van vervolging nie.
Deur die korrupte daad waarby Mkhize betrek word, is geld ontneem wat daartoe bygedra het dat gesondheidswerkers en staatshospitale verlede jaar met die uitbreek van die pandemie sonder voldoende mediese toerusting en beskermde kleredrag gelaat is.
Dit kon bydra tot lewensverlies onder gesondheidswerkers en pasiënte.
Hieroor moet rekenskap gedoen word.