Die VF Plus is ‘n party wat hom beywer vir die beskerming van minderheidsgroepe in Suid-Afrika, en Peter Marais, voormalige premier van die Wes-Kaap en burgemeester van Kaapstad, se aansluiting by die party word verwelkom aangesien dit wys dat die VF Plus erns het met sy uitreiking na minderhede.
Marais het homself beskikbaar gestel as kandidaat vir die Wes-Kaap en die party se nasionale- en provinsiale strukture het hom ingevolge die vereiste prosedure benoem as hul premierskandidaat vir dié provinsie.
Rasgegronde wetgewing soos Regstellende Aksie (RA) en die diskriminerende effek daarvan, veral op wit en bruin mense, is ‘n werklikheid en dit is daarom verblydend en noodsaaklik dat goeie samewerking tussen verskillende groepe en die VF Plus gevestig word om hierteen terug te veg.
Die VF Plus se deur staan oop vir almal wat hulle kan vereenselwig met die beleid, beginsels en waardes van die party en is die enigste party in Suid-Afrika wat in hierdie opsig aan minderhede ‘n ware heenkome bied en terugslaan vir ‘n beter toekoms vir almal.
Marais is ‘n deurwinterde politikus en as premierskandidaat bied hy bewese kundigheid en ervaring wat hom sonder twyfel die Wes-Kaap se voorste premierskandidaat maak.
Suid-Afrika se politieke landskap is besig om te verander en die VF Plus sal deur sy samewerking met minderhede ‘n toenemend-belangrike rol speel om die ANC te vervang en as deel van ‘n koalisieregering ‘n beter toekoms vir alle mense in die land te verseker.
(Mediaverklaring deur Pieter Groenewald, VF Plus-leier)