Die VF Plus leier vir Gauteng, Jaco Mulder, het die burgemeester van Emfuleni, Jacob Khawe, per brief versoek dat die stadsraad nie tot enige verdere protesaksie by skole in die gebied instem nie met spesifieke verwysing na Hoërskool Overvaal in Vereeniging.
Dit volg nadat dit aan die lig gekom het dat aansoeke vir verdere protesoptrede op Maandag 5 Februarie 2018 wel by Hoërskool Overvaal verwag word.
"Die Emfuleni-stadsraad gaan moet pa staan vir enige negatiewe voorvalle wat uit protesoptrede ontstaan waarvoor die raad toestemming verleen het."
Mulder het in die brief verwys na toepaslike wetgewing waaronder die Suid-Afrikaanse Skolewet 84 van 1996, die Kinderwet 38 van 2005 en die Beheer van Byeenkomste-wet 205 van 1993 wat spesifiek politieke aktiwiteite by skole, die veiligheid van kinders en leerders en openbare byeenkomste reguleer.
“Oortreding van hierdie wetgewing hou ernstige gevolge in en die Emfuleni-stadsraad gaan moet pa staan vir enige negatiewe voorvalle wat uit protesoptrede ontstaan waarvoor die raad toestemming verleen het,” sê Mulder.