Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus veroordeel Overvaal-haatspraak

Die VF Plus veroordeel die afgelope week se protesoptrede en geweld by Hoërskool Overvaal in Vereniging asook die openbare haatspraak van oproeriges,” sê Kobus Hoffman, VF Plus-raadslid vir Sedibeng.

Hoffman sê buiten dat die protesoptrede sonder die vereiste magtiging van die polisie en stadsraad plaasgevind het, is dit onrusbarend dat raadslede en munisipale amptenare daaraan deelgeneem het.

Hy sê veral skokkend is inligting dat raadsvoertuie van Sedibeng gebruik is om bande wat gebrand moes word, na die toneel aan te ry.

“Die VF Plus wil hiermee ouers en organisasies wat gehelp het om kinders veilig te hou, bedank. Ons wil ook die polisie bedank vir hul flinke optrede en ontlonting van die plofbare situasie.

“Die VF Plus veroordeel egter die ANC en die EFF vir hul opruiende optrede en haatspraak, aanhitsing van geweld en intimidasie. Hierdie optrede is uiters onverantwoordelik en bots lynreg met die Grondwet waartoe ons almal verbind is.

“Dit is onrusbarend hoe blatant en onvolwasse die uitsprake van die DA, ANC en EFF teenoor die Hoërskool Overvaal is, nieteenstaande die hooggeregshof se uitspraak oor die aangeleentheid en die statutêre regte van die skool.

“Die VF Plus veroordeel die miskenning van moedertaalonderrig deur hierdie partye – hulle buit hierdie situasie opportunisties uit deur populistiese uitsprake te maak en stemme te werf. Dit gaan hier nie oor die weerhouding van onderwys aan enigiemand nie, maar oor die behoud van Afrikaans as onderrigtaal by Hoërskool Overvaal.

“Volgens die hofuitspraak is daar wel Engelsmedium-skole in die  omgewing waar die betrokke 55 leerders geakkommodeer en in Engels onderrig kan word,” sê Hoffman.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.