Help die VF Plus om Suid-Afrika te herstel en weer op te bou. Dan is daar hoop vir die toekoms.
Hierdie boodskap van hoop is vandag as die VF Plus se verkiesingstema tydens die party se verkiesingsafskop by die Every Nation-kerk in Goodwood, Kaapstad voor ’n volgepakte saal gebring.
Die boodskap was ook om te registreer en te stem. Dat elke Suid-Afrikaner eienaarskap kan neem van hul eie en hul kinders se toekoms. Dit kan gedoen word.
Mense vra gereeld hoe hul enkele stem sal help om die ANC te verslaan. Die antwoord is dat elke stem belangrik is om ’n meerderheid te vorm.
Die Springbokke het pas drie wedstryde in ’n ry met ’n enkele punt gewen. Dit was eindelik goed genoeg om die wêreldbeker te wen. Al was dit met net ’n enkele punt. Dit is hoe belangrik ʼn enkele stem of ʼn enkele punt is.
Die situasie in Suid-Afrika het só versleg dat kinders al sand moet eet net om iets in die maag te kry. Werkloosheid in Suid-Afrika staan op 43% en tot 60% onder jeugdiges. Dit is mense sonder hoop of ʼn toekoms.
Werk en hoop bring trots. Om te weet dat jy vir jou gesin kan sorg. Sonder ʼn werk of ʼn inkomste het jy niks nie. Die rede hiervoor is ’n onbevoegde en korrupte ANC-regering wat mense met maatskaplike toelaes gevange hou.
Op internasionale vlak neem die regering verkeerde keuses en skaar hom toenemend by die wêreld se muishondlande ten koste van Suid-Afrika se inwoners.
Misdaad en korrupsie vernietig enige oorblywende hoop op voortuitgang. Misdaadsindikate soos die konstruksiemafia opereer openlik en sonder vrees. Die ANC-regering het bloot nie die wil om hierteen op te tree nie.
ʼn Nuwe politieke apartheid is geskep met die elite wat op die room van die land leef terwyl die res van die land se inwoners krepeer van ellende.
Suid-Afrika is ʼn pragtige land met genoeg vir al sy inwoners. Tog vier armoede en wanhoop hoogty. Die tyd het aangebreek om te sê genoeg is genoeg.
Dr. Corné Mulder, hoofsweep van die VF Plus, het gesê een party op sy eie kan nie genoeg steun kry om die ANC by die stembus te klop nie en daar sal ʼn koalisie gevorm moet word om dit te vermag.
Dit is die pad vorentoe. Die VF Plus het lank reeds gesê dit is die enigste manier om die ANC te klop. Hierdie boodskap het nou inslag gevind en gemanifesteer in die Veelpartyhandves.
Marknavorsing wys toenemend dat die ANC se steun ver onder 50% neig. Daar moet dus geen twyfel wees dat ’n koalisie van opposisiepartye wel ’n nuwe regering kan vorm om Suid-Afrika uit die ANC-moeras te lei nie.
Die tyd het aangebreek om saam met die VF Plus op te staan teen die ANC. ʼn Oorwinning met net een punt is steeds ʼn oorwinning.