Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Skuldiges aan bedrog rakende Pretoria-stadsaal moet aan pen ry

Persone wat hulle skuldig gemaak het aan bedrog met die opknappingsprojek van die Pretoria-stadsaal moet aangekla en vervolg word.

Die VF Plus in die Tshwane-metroraad het Donderdag tydens ʼn raadsvergadering ʼn voorstel gesteun dat ʼn direkteur in die burgemeesterskantoor intern ondersoek word vir die magtiging van betalings en die versuim om die projek behoorlik te monitor.

In 2012 het die departement van huisvesting en menslike nedersettings ʼn proses begin om kontrakteurs aan te stel vir die projek.

Dit sou ook die kantore van die burgemeester huisves en sou in drie fases voltooi word ten bedrae van onderskeidelik R42,7 miljoen, R50 miljoen en R10 miljoen.

Die metro het in 2015 die maatskappy Fundudzi Forensic Services (Pty) Ltd versoek om ʼn forensiese ondersoek na die projek te doen.

Die verslag het bewyse van finansiële wangedrag en bestedingsonreëlmatighede bevat en het aanbeveel dat daar teen drie senior amptenare opgetree moet word. Twee het intussen die metro se diens verlaat.

Die verslag meld dat R24 miljoen van die R42,7 miljoen aan kontrakteurs betaal is vir fase 1, maar dat daar net dienste ter waarde van sowat R4 miljoen gelewer is.

Daar word verder gemeld dat sommige amptenare moontlik onwettig voordeel getrek het uit die projek. Verdere bevindings is dat pryse vir meubels opgeblase was of nie afgelewer is nie, fakture is gelaai, en vakmanskap was swak.

Die verslag beveel aan dat geld van diegene wat onbehoorlik bevoordeel is verhaal moet word. Ntshadi Consortium word uitgesonder vir finansiële ongerymdhede en onvoltooide werk en moet verder ondersoek word.

Daar word ook aanbeveel dat Ntshadi Consortium en sy direkteure op ʼn swartlys geplaas moet word.

Die Tshwane-metro word aangeraai om ‘n klag by die polisie aanhangig te maak oor die ongerymdhede.

Hierdie saak sloer al jare en intussen word een van die stad se skatte net verder verwaarloos. Die VF Plus sal geen steen onaangeroer laat totdat die skuldiges aan die pen ry nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.