Die VF Plus het teen die begroting van die Ramotshere Moiloa-plaaslike munisipaliteit (Groot Marico en Zeerust) gestem aangesien dit nie die belangrikste kwessies wat die gemeenskap raak, soos dienslewering, takel nie.
Lekkende rioolpype en slegte paaie word bloot geïgnoreer ten spyte van die gemeenskap se klagtes en daar is geen verbetering in dienslewering van wyke waar die munisipaliteit tariewe verhoog het nie.
In die afgelope drie jaar is feitlik geen straatligte vervang nie. Daar is ook daagliks waterlekke en -pype wat bars. Riool vloei deur die strate en in spruite. Privaat wonings en sake-ondernemings se watermeters wat foutief is, word nie herstel of vervang nie.
Die munisipaliteit het ook ‘n kragtarief-verhoging goedgekeur alhoewel Nersa dit nog nie goedgekeur het nie. Die begroting wys die munisipaliteit het geen daadwerklike plan om swak dienslewering om te keer nie.
Die VF Plus kan die begroting en geïntegreerde ontwikkelingsbeplanning (GOP) nie goedkeur nie weens die feit dat daar kapitale projekte gedoen word in wyke waar daar nie vir dienste betaal word nie.
Die VF Plus wil toesien dat die ontwikkelingsplan daadwerklik infrastruktuur skep en dat verbeterings plaasvind in alle wyke. Dit is vir die VF Plus onregverdig dat belastingbetalers gestraf word met hoër tariewe, maar swak of geen dienslewering in ruil daarvoor ontvang nie.
Die VF Plus sal aanhou veg vir getroue belastingbetalers se reg tot ordentlike dienslewering en dienste.
Kontaknommers: 073 200 3309 / 079 409 8342