Die VF Plus het met skok kennis geneem dat die spoorlyn van Hutchinson in die Karoo na Calvinia, beide in die Noord-Kaap, tans afgebreek word. Luidens gerugte wil Transnet die spore vir skrootmetaal verkoop.
Daardie deel van die Karoo is nie net droog nie, maar ook ver van die Oranjerivier, wat beteken dat die ekonomie slegs van ekstensiewe veeboerdery in halfwoestynomstandighede afhang.
Toerisme kan wel toenemend ‘n belangrike bydrae tot die ekonomie lewer.
Die SKA-radioteleskoop wat tans die grootste wetenskaplike infrastruktuurprojek ter wêreld is, word in dieselfde omgewing tot stand gebring.
Terwyl dit vir Suid-Afrika as geheel groot voordele inhou, word die positiewe impak op die Karoo gebalanseer deur sowat 130 000 hektaar wat SKA uit produksie neem. Dit is juis waarom die departemente van wetenskap en innovasie, sowel as toerisme, op sogenaamde astro-toerisme fokus.
Die spoorlyn kan met minimale herstelwerk ‘n unieke toerisme-ervaring moontlik maak. Om die spoorlyn op te breek, maak eenvoudig nie sin nie.
Die VF Plus poog tans om met die ministers van toerisme, Patricia de Lille en vervoer, Barbara Creecy, in aanraking kom om die werk te staak totdat ‘n deeglike ondersoek gedoen is oor die voor- en nadele van die spoorlyn.