Die VF Plus in die Ekhurhuleni-metroraad het gister tydens ‘n raadsvergadering sy stem uitgebring teen die verwydering van die Willem Eduard Bok-borsbeeld wat in die voorportaal van die ou Boksburg-stadsaal staan.
Daar is ook ‘n tweede borsbeeld voor die stadsaal. Boksburg is na Willem Eduard Bok vernoem.
Die EFF het die mosie ter tafel gelê en die ANC het dit gesteun waarna die mosie aanvaar is.
Die EFF het dit duidelik gestel dat hy sal toesien dat alle beelde wat voor 1994 in Ekhurhuleni opgerig is en met apartheid verband hou. verwyder sal word
Die geskiedenis vertel egter ‘n ander verhaal. Willem Bok is van Nederlandse herkoms en was vanaf 1880 tot 1889 staatsekretaris van die Transvaalse republiek en een van president Paul Kruger se regterhande. Hy is in 1904 oorlede lank voor apartheid ingestel is.
Die VF Plus het daarop aangedring dat ‘n openbare deelname-proses gevolg moet word voordat die standbeeld verwyder kan word.
‘n Versoekskrif is ook saamgestel om die gemeenskap aan te moedig om die Ekurhuleni-metro te verhinder om die standbeelde te verwyder.
Hierdie is blote politieke opportunisme van politieke partye wat geen doel dien nie en geen bydra lewer tot die welstand van die inwoners van Ekurhuleni nie.
Die VF Plus sou die EFF en die ANC aanraai om eerder te fokus op belangriker sake soos dienslewering as om hulle te bemoei met ‘n Nederlandse immigrant.