Dit is belangrik dat die publiek moet weet hulle het die reg op insae in munisipale kontrakte met diensleweraars en die inhoud daarvan.
Munisipale wetgewing bepaal dat alle munisipale dienskontrakte beskikbaar moet wees vir openbare insae. Deur dit te doen kan die publiek help om bedrog en korrupsie te ontbloot en die algemene verval van munisipaliteite landswyd te voorkom.
Nie alle munisipaliteite is geneë om hierdie inligting geredelik beskikbaar te stel nie en dit skep die teelaarde vir wanbestuur, korrupsie en bedrog.
Die minister van finansies, Enoch Godongwana, het in antwoord op ‘n parlementêre vraag van die VF Plus bevestig munisipale wetgewing bepaal dat die publiek die reg het om toegang te kry tot alle munisipale dienskontrakte.
Dit sluit diensleweringsooreenkomste met munisipale verskaffers in.
Die VF Plus het die minister hieroor gevra ná talle voorvalle landswyd waar munisipaliteite weier om kontrakte en ooreenkomste openbaar te maak.
Dit geld verál in gevalle waar diensverskaffers ooglopend onderpresteer of projekte half-voltooid agterlaat nadat hulle reeds hul vergoeding of ‘n deel daarvan ontvang.
Die VF Plus doen ‘n beroep op alle belanghebbende organisasies, sakelui en die publiek landwyd om by munisipaliteite aan te dring op hul reg tot toegang tot dié inligting.
Op hierdie wyse sal ook bepaal kan word watter ANC-tenderpreneurs bydra tot swak dienslewering en die stroping van munisipale hulpbronne.
Dit is bekend dat dieselfde tenderpreneurs in ANC-munisipaliteite telkens beloon word met tenders ten spyte van ‘n bewese swak diensrekord.
Die VF Plus se raadslede speel in dié geval ook hul waghondrol deur aan te dring op inligting wat tot op hede selfs van munisipale raadslede weerhou is.
Wye openbare aandrang op die besonderhede van kontrakte en ooreenkomste kan ‘n keerpunt bewerkstellig om onreëlmatighede uit te roei.
Dit kan bydra om die mag en invloed te breek van diegene wat oor tyd ‘n wurggreep op munisipale hulpbronne ten koste van die publiek verkry het.
‘n Voorbeeld van burgerlike druk is waar Sakeliga ’n hofaansoek in die hooggeregshof in Polokwane gebring het om die waarnemende munisipale bestuurder van die Mogalakwena-plaaslike munisipaliteit in Limpopo skuldig te laat bevind aan minagting van die hof.
Volgens Sakeliga volg dié aansoek op ’n hofbevel wat op 18 Januarie vanjaar bekom is om die munisipale bestuurder te verplig om inligting ingevolge ‘n Paia-aansoek bekend te maak.
Die VF Plus het ‘n toegewyde e-posadres (Cornetvt@vfplus.org.za) geskep waar inligting deurgegee kan word van gevalle waar inligting weerhou word.
Die VF Plus sal die inligting gebruik om verdere druk op munisipalteite te plaas en om op te tree teen onreëlmatighede.
Die party sal voortgaan om korrupsie en die verval van dienslewering op alle vlakke van regering te bestry. Suid-Afrika se publiek verdien beter as die ANC.