fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus-repliek op pres. Zuma se 2015-staatsrede:ANC soek nou sondebokke vir sy mislukking as ‘n regering

Hoe swakker die ANC as regering vaar, hoe meer word sondebokke gesoek op wie die skuld vir sy mislukkings gepak kan word. Dr. Pieter Mulder het vandag in die parlement in reaksie op pres. Jacob Zuma se staatsrede verduidelik hoe uiters gevaarlik en verdelend dié optrede is.

Hier volg die volledige toespraak:

 

Repliek op pres. Zuma se Staatsrede 2015

Dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier

18 Februarie 2015

Speaker,

Wat doen ‘n regerende party as die kiesers teen so ‘n party begin draai? Die party begin sondebok-politiek bedryf.

Wat is sondebok-politiek?

Dit is waar die party ander vir sy mislukkings blameer.

In Duitsland het Hitler die Jode blameer vir Duitse armoede. Sondebok-politiek.

Toe Mugabe die referendum in 2000 verloor, noem hy die nee-stemmers “sell out Zimbabweans” en blameer die wit boere. Ons weet wat daarna met die wit-boere gebeur het. Sondebok-politiek

In Rwanda noem die Hutu -leiers die Tutsis kakkerlakke en blameer hulle vir die land se probleme. Toe die probleme nie weggaan nie, besluit die gewone Hutus om van die kakkerlakke ontslae te raak. Tot ‘n miljoen Tutsis word in 100 dae vermoor.

Dieselfde gebeur in Duitsland waar miljoene Jode vermoor is.

In Suid-Afrika maak beurtkrag almal kwaad. Die agbare president blameer nie Eskom se gebrek aan beplanning nie. Hy blameer Apartheid en die vorige wit regering. Sondebok-politiek.

Toe die NP-regering in 1994 die mag aan die ANC oorhandig, het Eskom ‘n opwekkingsvermoë van 37,6 GW gehad. Na 20 jaar van ANC-regering het Eskom tans ‘n skrale 24 tot 28GW vermoë.

Waar kom Suid-Afrika se probleme vandaan? Die agbare president sê: “a man called Jan van Riebeek arrived here and that was the start of the trouble in this country”. Ek kan aantoon hoe die president verkeerd is – maar wat sê hy in gewone taal? Hy sê toe die witmense hier aankom, het die moeilikheid begin.

Wat verstaan die gewone ANC-ondersteuner daarvan? Hy verstaan dat as jy van die witman ontslae raak, dan is die probleme weg. Raak ontslae van die kakkerlakke, dan is die probleme weg. As ek sê dit speel ‘n rol in baie van die plaasmoorde, lok dit ‘n histeriese ANC-reaksie uit.

Ons kry dieselfde sondebok-politiek as dit oor grond gaan. Die buitelanders koop al die grond op, daarom is die pryse so hoog. Raak ontslae van die buitelanders.

Syfers wys buitelanders besit maksimum 2% grond maar hulle beleggings, hulle werkskepping en hulle maatskappye se bydrae tot belasting is baie groter as 2%.

Dieselfde geld die Somaliërs en ander buitelanders. Die TV-tonele oor hoe winkels in Soweto gestroop word, was skokkend. Natuurlik was dit xenofobie.

Gaan lees die slagspreuke wat geskryf is. Die president sê Donderdag nie ‘n woord daaroor nie. Hy sê wel buitelanders mag nie grond besit nie. Die gewone Soweto-inwoner hoor die president sê dat hulle reg was om sommer by voorbaat van die buitelanders ontslae te raak.

Wat landbougrond betref is u voorstelle onrealisties en onuitvoerbaar. Ek het dit meer as een keer in Kabinet Lekgotlas gesê. Georganiseerde landbou het hard gewerk aan praktiese voorstelle vir hulle gesprekke met die regering in Maart. Voor daardie gesprekke plaasvind, kondig u hierdie voorstelle af en verongeluk daardie gesprekke. Hierdie voorstelle gaan nie die EFF tevrede stel nie, gaan landbou vernietig en voedselsekerheid in gedrang bring.

U is nie net leier van die ANC nie. U is ook staatshoof. 'n Staatshoof tree op in die belang van alle Suid-Afrikaners – nie net in die belang van die ANC nie.

In die parlement – na aanleiding van die meeste ANC-toesprake – is jy net 'n goeie Suid-Afrikaner en van Afrika indien jy by die ANC aansluit. Indien jy nie aansluit nie en durf waag om te kritiseer, dan is jy die vyand van die mense, gekant teen transformasie en tien-teen-een 'n rassis. Sondebok-politiek. Suid-Afrika is vir my en die meerderheid van Afrikaners en Engelsprekende wittes en ander minderhede ons enigste tuiste en ons sal nie toelaat dat iemand anders vir ons besluit of ons van Afrika en patrioties is nie.

Agbare president, hou op met sondebok-politiek. U stel ‘n verkeerde voorbeeld. Dit is presies die teenoorgestelde van wat president Mandela gedoen het. U speel met vuur in ‘n land wat niks nodig het om aan die brand te slaan nie.

Speaker, glo die ANC werklik in die grondwet? Toe die ANC Donderdag in hierdie raad onder druk kom, het baie Suid-Afrikaners geskrik toe hulle ‘n outokratiese ANC sien wat niks ontsien om die mag te behou nie. Is dit die regte ANC? Sal die ANC die mag vreedsaam oorhandig as hulle ‘n verkiesing verloor? Glo die ANC werklik in die grondwet se liberaal-demokratiese beginsels? Ek sê nee. Hulle steek die ware karakter van die ANC weg agter ‘n gordyn van menseregte en demokratiese woorde.

Prof. K.A. Busia van Ghana skryf:

“A democracy in the last analysis depends on the character of individual men and women and the moral standards of the community. Rules governing elections may be made; freedoms may be provided in constitutions; and Bills of Right may be passed; they will make arbitrary acts easier to resist publicly, but they will not by themselves secure democracy. There are other rules which are unwritten, such as honesty, integrity, restraint and respect for democratic procedures.”

Mnr. u is tans die probleem. Los sondebok-politiek, respekteer demokratiese waardes en stop om my as Afrikaner en ander groepe aan te val en weg te dryf. U gaan nie van ons ontslae raak nie en u gaan ook nie hierdie land se probleme sonder ons oplos nie. Daar is goeie mense in al Suid-Afrika se gemeenskappe. Kom ons erken dit en werk saam om van hierdie land ‘'n sukses te maak.

Ons is kwaad vir die regering, maar ons is lief vir die land. Daarom wil ons help om Suid-Afrika te laat werk. Gaan kyk in Ethiopië en in Europa hoe minderheidsregte en selfbeskikking gebruik word om daar minderheidsgroepe se samewerking te kry.

 

Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Mediaverklarings
Mark Surgeon

Tshwane-metro minag Strukturewet

Die Tshwane-metroraad het gister tydens ʼn raadsvergadering die Munisipale Strukturewet geminag deur ʼn verslag wat handel oor ʼn ANC-raadslid wat ses agtereenvolgende raadsvergaderings nie bygewoon

LEES MEER
Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.