"Terwyl afleggings en werkloosheid miljoene mense in die gesig staar vanweë die vernietigende effek van die Covid-19-inperkings op Suid-Afrika se ekonomie, het belangrike dienste op Stilfontein tot ‘n stilstand gekom omdat werkers staak," sê Michal Groenewald, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede.
"Munisipale werkers wat onderhoudsdienste moet lewer, is glo ongelukkig omdat van hulle moet werk tydens inperking terwyl ander werkers vanweë die regulasies by die huis moet bly en steeds betaal word.
"Sowat ‘n derde van Stilfontein het die afgelope twee dae nie water gehad nie nadat ‘n pyp gebars het. Hierdie lekkasie het ‘n reuse gat op die hoek van Stilfontein- en Gamtoosweg veroorsaak. (Op die aangehegte foto’s sit en staan Michel Groenewald in die gat gevul met water).
"Die situasie is totaal onaanvaarbaar en die VF Plus sal druk op die munisipaliteit plaas om van sy werkmag af te lê aangesien die huidige finansiële krisis by die munisipaliteit veel groter gaan wees na die inperking."
"Daar kan eerste ontslae geraak word van mense wat onwillig is om te werk en mense wie se dienste oorbodig is. Wanneer daar nuwe werkers aangestel word, moet dit ook op grond van meriete wees.
"Die VF Plus is intussen in gesprek met die bestuur van die munisipaliteit om toe te sien dat die probleem rondom stakende werkers so gou moontlik opgelos word asook om te handel met die onmiddellike probleem van die waterlekkasie en die herstel van die gat, al sou dit beteken dat kontrakteurs daarvoor aangestel moet word.
"Daar is nie meer plek in Suid-Afrika vir vakbonde wat die land se wankelende ekonomie verder aftakel, of vir werkers wat nie bereid is om te werk nie. Dit kan bloot nie meer bekostig word nie en belastingbetalers moet saam met die VF Plus hierteen opstaan," sê Groenewald.