Die VF Plus steun en verwelkom die klopjag van die Ekurhuleni-metropolisie op onwettige immigrante in die informele nedersetting ‘Plastic City’ in Brakpan.
Die sukses van die operasie is ‘n deurbraak vir die VF Plus wat al ‘n geruime tyd daaraan werk om die Brakpan-gemeenskap by te staan om ‘Plastic City’ skoon te maak van misdadige elemente en die nedersetting uiteindelik te skuif.
Die klopjag is op 14 Oktober 2022 uitgevoer.
‘Plastic City’ het oor tyd ‘n herberg geword vir onwettige myners en talle ander misdadige elemente weens die ligging reg by ‘n ou myn en ‘n groot stortingsterrein.
Daarby verhinder die informele nedersetting geordende ontwikkeling en het ‘n gevaar geword vir wettige inwoners weens misdaad en chroniese lugbesoedeling.
Die VF Plus het ná oorlegpleging met die aangrensende Boksburg-gemeenskap druk op die Ekurhuleni-metro begin plaas om stappe te neem om eerstens die onwettige immigrante en myners uit ‘Plastic City’ te haal en om daarna die hele nedersetting, wat tans nie baie groot is nie, te skuif voordat dit ‘n bykans onoplosbare probleem word.
Die VF Plus se raadslid, Riaan van Zyl, het die metropolisie vergesel waartydens 17 onwettige immigrante in hegtenis geneem is.
Daar is ook op heelwat gesteelde items beslag gelê, soos ‘n duur voertuig, drank, lewende hawe en huistoebehore.
Die dierebeskermingsvereniging (DBV) was ook teenwoordig en het dadelik bygestaan om verwaarloosde troeteldiere, soos honde, na ‘n veilige hawe te neem.
Die VF Plus betuig sy dank teenoor die Ekurhuleni-metropolisie en sy hoof-superintendent BF Buthelezi in Brakpan.
Die VF Plus bedank ook die DBV vir sy samewerking om weerlose diere te versorg.
Hierdie was slegs die eerste fase van die VF Plus se oogmerk om ‘Plastic City’ as onwettige ontwikkeling aan te spreek en alternatiewe behuising vir die wettige inwoners daar te stel weg van die gevaar van ou myne en stortingsterreine.