Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus nie ten gunste van die verkoop van die Goeie Hoop-sentrum in Kaapstad

Die VF Plus is bekommerd oor die verwarring en gebrek aan duidelikheid rondom die voorgestelde verkoop van die Goeie Hoop-sentrum, ‘n historiese en ikoniese baken in Kaapstad en verskillende boodskappe wat deurentyd in die media verskyn.

Die party is van mening dat die Stad Kaapstad nie die Goeie Hoop-sentrum behoort te verkoop nie, maar eerder self ontwikkeling van die terrein te hanteer.

Die voorstel is dat omvattende navorsing en openbare deelname behoort plaas te vind om die mees geskikte en optimale aanwending van die eiendom te bepaal.

Tydens ‘n onlangse radio-onderhoud het die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, bekend gemaak dat die hoogste bod vir die eiendom R135 miljoen was en dit deur ‘n Nigeriese kerk gemaak is.

Volgens die burgermeester het ‘n ondersoek deur die stad egter bevind dat die bieër nie oor die vereiste fondse beskik om die transaksie te finaliseer nie. Gevolglik het die stad die tweede hoogste aanbod van R130 miljoen aanvaar.

Hill-Lewis het verder gesê die voornemende koper beoog om die Goeie Hoop-sentrum in ‘n moskee te omskep, wat ook laekostebehuising sal insluit.

Kort ná dié aankondiging het die oorspronklike hoogste bieër die stad se bewering egter in die openbaar verwerp en volgehou dat hy wel oor voldoende finansiering beskik om die kooptransaksie deur te voer.

Hierdie teenstrydige inligting het groot onsekerheid en openbare verwarring geskep oor die toekoms van hierdie belangrike baken.

Gegewe die ernstige behuisingskrisis waarmee Kaapstad tans het, het die stad ‘n verantwoordelikheid om die sentrum op só ‘n wyse te ontwikkel dat dit die breër openbare belang dien en tot voordeel van alle inwoners strek.

Om die eiendom in ‘n godsdiensinstelling te omskep – hetsy ‘n kerk, moskee of enige ander geloofsgemeenskap – sal hoofsaaklik net ‘n spesifieke groep bevoordeel en nie die breër gemeenskap nie.

Die VF Plus doen ‘n beroep op die Stad Kaapstad om die huidige verkoopsproses onmiddellik te staak, volle deursigtigheid te verskaf oor alle aanbiedinge en die omsigtigheidsondersoek, en die openbare belang voorop te stel in enige toekomstige besluitneming oor die Goeie Hoop-sentrum.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.