Die VF Plus het gister met gemeenskapsleiers in Groenkloof vergader en hulle bygestaan met die opstel van ’n dringende petisie aan die Tshwane-metro. Dit volg ná herhaalde kragonderbrekings in die gebied weens kabeldiefstal die afgelope twee weke.
Die petisie fokus op die gebied langs die Unisa-heining naby die Fonteinesirkel, waar kabels herhaaldelik gesteel word.
Die steil helling is swaar oorgroei met lang gras, onkruid en bosse wat misdadigers voldoende skuiling bied. Ten spyte van talle vorige versoeke, het die metro nog nie die gebied skoongemaak nie. Inwoners word nou gedwing om self tyd en geld te bestee om die gebied te onderhou, terwyl hulle volle eiendomsbelasting betaal.
Die digte plantegroei maak bestaande sekuriteitskameras nutteloos en verhoog die risiko vir misdaad.
In die petisie doen die VF Plus ’n beroep op die Tshwane-metro om dringend met Eskom saam te werk en bewese oplossings teen kabeldiefstal in te voer. Dit sluit in die vervanging van koperkabels met alternatiewe materiale van lae skrootwaarde, die installering van vibrasiesensors en radio-monitering, kabelpantsering en beter samewerking met die polisie en private sekuriteit.
Die petisie eis verder:
• Die onmiddellike skoonmaak van alle gras, onkruid en bosse op die helling;
• Gereelde driemaandelikse instandhouding van die gebied;
• ’n Gesamentlike assessering met Eskom en die implementering van effektiewe teendiefstal-tegnologie; en
• ’n Skriftelike antwoord aan inwoners binne 14 dae met duidelike tydlyne.
Die VF Plus staan nie net langs die inwoners van Groenkloof nie, maar tree op. Belastingbetalers het die reg op betroubare kragverskaffing en ’n veilige omgewing.
Die party sal aanhou druk uitoefen totdat die gebied skoongemaak is en kabeldiefstal stopgesit word.
Die VF Plus sal ook skriftelike versoeke aan die Universiteit van Pretoria (UP) en Unisa rig om saam met die gemeenskap die probleem aan te pak.
Die VF Plus nooi alle inwoners en ondernemings van Groenkloof uit om die petisie te onderteken en saam te staan vir beter dienslewering.


