fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus-Manifes: Plaaslike Regeringsverkiesing 2016

VF Plus-Manifes: Plaaslike Regeringsverkiesing 2016

Inhoudsopgawe

1. Inleiding 2
2. Kernprobleme en oorsake 4
2.1. Finansiële tekorte 4
2.2. Swak dienslewering 5
2.3. Infrastruktuur verval 5
3. VF Plus-beleidstandpunte en oplossings 6
3.1. ‘n Regverdige bedeling vir almal 6
3.2. Plaaslike Regering moet plaaslik wees 7
3.3. Diversiteit 8
3.4. Billike belasting en tariewe 8
3.5. Werkskepping en ekonomiese groei 9
3.6. Morele waardes 10
3.7. Samewerking met ander partye en veelpartyregerings 10
3.8. Opposisie- en waghondrol 11
4. Samevatting van agtpunt-plan 12

 

1. Inleiding

Die meeste munisipaliteite van Suid-Afrika is in totale chaos gedompel. Dienslewering is ontoereikend, infrastruktuur verval en ‘n groot aantal munisipaliteite is in werklikheid bankrot.

Die VF Plus neem aan die verkiesing deel onder die tema, “Die toekoms is in jou hande – veg vir jou regte”. Elke kieser moet besef dat die toekoms in sy/haar hande is. Hierdie manifes bevat ‘n agtergrond ten opsigte van munisipale kwessies en probleme, die oorsake van hierdie probleme en bied ‘n agtpunt-plan aan om hierdie probleme aan te spreek.

Die volgende som die sombere situasie op plaaslike regeringsvlak op:

• Daar is ‘n tekort aan amptenare met die nodige vaardighede en kwalifikasies. Byna 42% van amptenare in die finansiële departemente van munisipaliteite is nie voldoende gekwalifiseer nie en 13% van munisipale bestuurders beskik nie oor die nodige vaardighede en kwalifikasies nie. Daar is ook baie belangrike poste wat vakant is. Sowat 19% van senior bestuursposte in munisipaliteite is vakant.

• Daar is ‘n buitensporige hoeveelheid poste – 42 998 – in waterbestuursdirektorate van munisipaliteite vakant. Die munisipaliteite wat tans gebuk gaan onder watertekorte is die munisipaliteite met die meeste vakante poste in hierdie direktoraat.

• Die gebrek aan finansiële bestuur van munisipaliteite is kommerwekkend. Volgens die Ouditeur-Generaal is 92% van munisipaliteite se finansiële gesondheid kommerwekkend en ‘n kwart van munisipaliteite word as bankrot beskou. Onreëlmatige uitgawes beloop meer as R14 miljard en vrugtelose en verkwiste uitgawes, R1,3 miljard.

• Munisipaliteite se skuld aan Eskom beloop in totaal meer as R9,6 miljard en aan waterrade meer as R4,3 miljard. Die totale uitstaande krediteure van munisipaliteite is R26,3 miljard. Krediteure wat vir meer as 90 dae uitstaande is, neem jaarliks toe. Dit dui daarop dat munisipaliteite nie likied is nie en ‘n totale tekort aan kontantvloei beleef.

• Daar is plaaslike munisipaliteite wat gereeld faal om salarisse aan hul amptenare te betaal. Erger is die feit dat derdeparty-aftrekkings ten opsigte van salarisse, soos pensioenfonds, mediese fonds en belasting in baie gevalle nie aan die derdepartye oorbetaal word nie. Hierdie fondse word onwettig vir operasionele aktiwiteite gebruik weens ‘n tekort aan kontantvloei. Munisipaliteite skuld SARS meer as R305 miljoen aan LBS-aftrekkings wat nie oorbetaal is nie en aan pensioenfondse R343 miljoen.

• Die staat se uitstaande skuld aan munisipaliteite is R6,1 miljard. Dit beteken dat skole, hospitale en ander staatsgeboue se munisipale rekeninge in baie gevalle nie betaal word nie.

• Die totale uitstaande skuld aan munisipaliteite (debiteure) beloop R108,6 miljard. Van die totale uitstaande debiteure word slegs R22,9 miljard (21%) as inbaar beskou, aangesien nagenoeg 80% van die debiteure ouer as 90 dae is. Hierdie toestand duur voort ten spyte van die feit dat munisipaliteite jaarliks miljoene rande se debiteure as oninbaar afskryf.

• Konsultante word by meeste munisipaliteite gebruik as ‘n gevolg van die tekort aan interne kapasiteite. Miljarde rande word aan konsultante bestee terwyl volgens die Ouditeur-Generaal daar ‘n ernstige gebrek aan die bestuur en monitering van konsultante bestaan. Konsultante lewer dus substandaard werk, buit munisipaliteite uit en word nie aanspreeklik gehou nie.

• Daar is geen gevolge vir oortredings deur amptenare nie. Amptenare word by ‘n munisipaliteit of ‘n ander sfeer van die regering of entiteit afgedank weens ‘n oortreding of onbevoegdheid net om dan by ‘n ander munisipaliteit in ‘n senior amp aangestel te word. ‘n Voorbeeld hiervan is die onlangs aangestelde munisipale bestuurder van die Vhembe-distriksmunisipaliteit wat uit haar amp as hoof finansiële beampte van die Gautengse dobbelraad afgedank is nadat sy skuldig bevind is aan wangedrag en erge onbevoegdheid.

• Infrastruktuur word nie in stand gehou en opgegradeer nie. Dit lei onder meer tot grootskaalse waterverliese as gevolg van waterlekkasies wat na raming tot 50% van water wat deur munisipaliteite aangekoop word, beloop. Hierdie waterverliese kos munisipaliteite jaarliks meer as R11 miljard.

• Daar is ‘n groot tekort aan ingenieurs op plaaslike regeringsvlak.

2. Kernprobleme en oorsake
2.1. Finansiële tekorte

Suid-Afrika beleef tans ‘n ekonomiese krisis met ‘n ontoereikende groeikoers en swak kredietgraderings. Hierdie krisis lei tot krimpende staatsinkomste terwyl die behoeftes en uitgawes styg.
Munisipaliteite se billike aandeel van die nasionale fiskus word dus ook minder in verhouding met die behoeftes aan infrastruktuurontwikkeling en dienslewering.

Aangesien munisipaliteite se eie inkomstebronne (tariewe en belasting) ook verminder en debiteure nie voldoende ingevorder word nie, beleef munisipaliteite ‘n ernstige finansiële krisis. ‘n Bose kringloop vorm waar munisipaliteite ontoereikende dienste lewer en tariewe verhoog wat tot minder ontwikkeling en groei van die privaatsektor lei. Dit lei tot ‘n verarmde bevolking en werkloosheid wat die inkomstestroom van munisipaliteite verder verminder.

Die blaam vir hierdie finansiële krisis kan nie slegs op die globale ekonomie en die globale resessie geplaas word nie. Die oorsaak is baie eerder jarelange finansiële wanbestuur, korrupsie, selfverryking, vermorsing en verkeerde prioriteite. Daar is ‘n algehele tekort aan fiskale dissipline op plaaslike regeringsvlak – buitensporige salarisse word betaal en luukshede vir burgemeesters, munisipale bestuurders en ander is aan die orde van die dag. Onderbesteding van voorwaardelike toekennings vir infrastruktuurontwikkeling was vir jare aan die orde van die dag.

Weens die enorme werkloosheidkrisis en armoede in Suid-Afrika is daar geweldige druk op munisipaliteite as gevolg van inwoners wat nie vir hul water, sanitasie, vullisverwydering en elektrisiteitsvoorsiening kan betaal nie. Munisipaliteite het egter gefaal om armlastigheidsregisters volledig op te dateer. Dit het daartoe gelei dat baie inwoners wat volgens hul inkomstevlak as armlastig beskou moes word, en dus gratis dienste moes ontvang, nie as sodanig op die register aangebring is nie. Hierdie inwoners was verkeerdelik vir dekades as betalende kliënte wat rekeninge ontvang het, beskou. Dit het tot ‘n geweldige hoë hoeveelheid uitstaande en oninbare debiteure gelei. Aan die anderkant is sommige inwoners op die armlastigheidsregister toegelaat wat in werklikheid volgens hul inkomstevlak nie daarvoor kwalifiseer nie.

Die gevolg van hierdie finansiële toestand is munisipaliteite wat nie hul krediteure soos Eskom kan betaal nie, nie effektief dienste kan lewer nie en nie infrastruktuur in stand kan hou nie.

In baie gevalle is die hoof finansiële beamptes en ander senior finansiële amptenare nie op grond van meriete aangestel nie en beskik hul nie oor die nodige kundigheid, ervaring en vaardighede nie. Regstellende Aksie-aanstellings het gelei tot die klemverskuiwing vanaf meriete na ander gronde, soos velkleur, politieke affiliasie en politieke party-faksie. Hierdie aanstellings en kaderontplooiing het tot erge finansiële wanbestuur gelei.

Die groot hoeveelheid onreëlmatige, vrugtelose en verkwiste en ongemagtigde uitgawes weens wanbestuur dra grootliks tot die finansiële krisis by. Tenders word links en regs toegeken sonder dat waarde vir geld verkry word.

Munisipaliteite sien die buitensporige verhoging van eiendomsbelasting en tariewe as die oplossing van finansiële tekorte. Jaarliks word eiendomsbelasting en tariewe met meer as inflasie verhoog. Dit het die teenoorgestelde gevolg aangesien hierdie verhogings tot ‘n groter verarming van inwoners lei en meer nie-betalers skep wat tot nadeel van munisipaliteite is. Klein- tot medium-sakeondernemings se deure sluit weens hierdie onbekostigbare verhogings wat tot werkloosheid en verdere verarming van die munisipaliteit in geheel lei.

2.2. Swak dienslewering
Dienslewering op plaaslike regeringsvlak stort in duie. Meeste munisipaliteite kan nie voldoende dienste aan die totale diensgebied van die betrokke munisipaliteit lewer nie. Vullisverwydering, sanitasie, water- en elektrisiteitsvoorsiening en korrekte munisipale rekeninge is ontoereikend.

Munisipaliteite se diensgebiede is onrealisties groot. Dorpe binne munisipale gebiede is in sommige gevalle so ver as 160km van mekaar. Die funksie van dienslewering is verkeerdelik gesentraliseer. Dit het tot gevolg dat die regering ver van die gemeenskappe is en dienslewering nie voldoende kan geskied nie.

Daar is ook ‘n tekort aan toegewyde en bevoegde munisipale amptenare. Regstellende Aksie-aanstellings het tot lae moraal, swak toewyding en onbevoegdheid gelei.

Munisipale vakbonde word te veel mag toegelaat om onbillike eise te stel en gereeld stakings te reël. Die gereelde stakings van munisipale werkers dra by tot die swak dienslewering.

2.3. Infrastruktuur verval
Watertekort, vuil water, slaggate in paaie en riool wat in strate loop word die alledaagse tendens in Suid-Afrikaanse munisipaliteite.
Suid-Afrika is ‘n waterskaars land wat gebuk gaan onder droogtes. Hierdie natuurlike fenomene is egter nie alleen verantwoordelik vir die watertekort nie.

Infrastruktuur soos pyplyne, damme, watersuiweringsaanlegte en waterpompe wat nie in stand gehou word nie, dra by tot die kernprobleem in hierdie verband. ‘n Enorme hoeveelheid water gaan verlore weens waterlekke en gebrekkige infrastruktuur. Kundigheid in verband met waterbestuur is afwesig.

As gevolg van finansiële tekorte is daar min fondse beskikbaar vir die volhoubare instandhouding en uitbreiding van munisipale paaie. Die fondse wat daar is, word oor die algemeen verkeerd aangewend weens ‘n tekort aan kundigheid. Paaie wat nuut gebou word, verval na ‘n paar jaar as gevolg van geen roetine instandhouding nie.

Tenders word ten opsigte van infrastruktuurprojekte toegeken aan maatskappye wat in baie gevalle die regering uitbuit en substandaard werk lewer. Hierdie maatskappye se werk word nie gemonitor vir waarde vir geld nie. In ander gevalle word maatskappye nie betaal nie wat lei tot onvoltooide infrastruktuurprojekte.

Daar is ‘n algehele tekort aan ingenieurs op munisipale vlak wat lei tot swak beplanning, monitering, implementering en uitvoering van infrastruktuurprojekte. Dit is grootliks as gevolg van Regstellende Aksie wat sodanig toegepas word dat poste slegs gevul word indien ‘n kandidaat van die voorkeur ras aansoek doen, andersins word die pos vakant gelaat.

Die huidige regering se oplossing vir die tekort aan ingenieurs is om Kubaanse ingenieurs te kontrakteer. Dit kos honderde miljoene rande per jaar om vir hierdie ingenieurs se salarisse, verblyf, gereelde retoervlugte na Kuba en ander byvoordele te betaal. Hierdie ingenieurs mag egter glad nie in Suid-Afrika praktiseer en dus planne of installasies afteken nie, aangesien hul kwalifikasies nie toelaat dat hul by die Ingenieursraad van Suid-Afrika mag registreer nie. Die enigste rede vir die invoer van Kubaanse ingenieurs is die ANC se historiese lojaliteit teenoor Kuba.

3. VF Plus-beleidstandpunte en oplossings
3.1. ‘n Regverdige bedeling vir almal

Die VF Plus is verbind tot 'n regverdige bedeling vir almal. Dit geld nie net die meerderheid nie, maar ook minderheidsgroepe. Daarom veroordeel die party maatreëls wat post apartheid-diskriminasie teen mense op grond van ras instel, soos Regstellende Aksie en Swart Ekonomiese Bemagtiging.

Die VF Plus is daarvan oortuig dat een van die kernoorsake vir swak dienslewering die ongebreidelde toepassing van Regstellende Aksie is waardeur ervare bestuurders en professionele lui uit munisipaliteite verstoot en vervang is deur ANC-kaders. Derhalwe het persone met beperkte of geen vermoëns om die publiek behoorlik te dien, soos vereis deur munisipale wetgewing, beheer geneem van broodnodige en basiese dienste wat nou feitelik inmekaar stort regoor die land.

• Regstellende aksie kan nie vir altyd aanhou nie. Die VF Plus sal hom derhalwe beywer om bevoegde en gekwalifiseerde amptenare op meriete in diens te neem en in diens te hou. Die chaos by munisipaliteite ten opsigte van dienslewering en bestuur kan slegs opgelos word deur die kundigste persone beskikbaar aan te stel. Nepotisme asook ander vorme van bevoordeling moet uitgewis word.

• Die VF Plus eis ‘n moratorium op regstellende aksie vir skaars vaardighede en waar ‘n pos vir langer as 90 dae nie gevul word nie.

• Die tenderproses by munisipaliteite moet hersien word om veelparty verteenwoordiging op tenderkomitees te verseker en sodoende deursigtigheid te bewerkstellig.

• Alleenlik kontrakteurs en konsultante wat oor die kundigheid en bewese rekord beskik om die werk te kan doen, sal aangestel moet word.

• Historiese lojaliteite sal nie ‘n rol by aanstellings speel nie.

• Suid-Afrikaanse ingenieurs moet aangestel word ongeag hul velkleur en die invoer van Kubaanse ingenieurs moet onmiddellik gestaak word.

• Die VF Plus sal rassediskriminasie teenstaan.

3.2. Plaaslike Regering moet plaaslik wees
Die VF Plus sal 'n bedeling wat volhoubare en selfstandige gemeenskappe moontlik maak, bevorder. Sulke plaaslike gemeenskappe moet as boustene van 'n breër samelewing in staat gestel word om na hulle eie welstand om te sien.

Die beginsel van regering so naby as moontlik aan die gemeenskappe self, moet bevorder word. Die wêreldtendens is dat besluite en dienste so na as moontlik aan die gemeenskap wat daardeur geraak word, geneem word. Switserland is ‘n goeie voorbeeld van die sukses hiervan. Switserland het sowat 8 miljoen inwoners en ‘n oppervlakte van 41 285 km2 wat deur 2740 munisipale rade bedien word. Suid-Afrika met 54 miljoen inwoners en ‘n oppervlakte van 121 9090 het 213 munisipaliteite. Die aantal munisipaliteite in Suid-Afrika het die afgelope vyf jaar met 51 verminder.

Daarom behoort die bestaande stelsel van megastede en plaaslike munisipaliteite wat uit verskeie dorpe bestaan, verander te word om plaaslike regering terug te bring na plaaslike gemeenskappe. Gevolglik moet belasting wat uit hierdie gemeenskappe betaal word ook teruggeploeg word in die betrokke gemeenskap.
Dit moet verwelkom word as gemeenskappe self stappe neem om byvoorbeeld hul eie veiligheid te bevorder. Dit behoort aangemoedig te word.

• Die VF Plus sal hom beywer vir die afwenteling en desentralisering van mag.

• Die VF Plus is verbind tot billike en regverdige wetstoepassing op plaaslike vlak om veiligheid te verseker.

3.3. Diversiteit
Die VF Plus sien diversiteit as 'n bate vir Suid-Afrika. Diversiteit moet daarom op alle vlakke van regering erken en gekoester word. Dit sluit in respek vir alle gemeenskappe se simbole en historiese name. Die VF Plus se deurlopende politieke gevegte oor die onnodige verandering van plek- en straatname, bewys dit.

• Die VF Plus sal hom in die besonder beywer vir die instandhouding van tehuise vir bejaardes en die uitbouing van die Afrikaner en ander minderheidsgemeenskappe se kultuurskatte soos museums, en monumente.

• Dit is belangrik dat gemeenskapsbiblioteke gemeenskappe se waardes verteenwoordig.

• Die VF Plus spits hom toenemend toe om behuising te verskaf vir arm Afrikaners en ander minderhede wat uitgesluit word deur die ANC se rasse-program.

• Die VF Plus is verbind tot die beginsel van veeltaligheid, soos verskans in die Grondwet, en sal veral vir Afrikaans intree.

3.4. Billike belasting en tariewe
Die betaling van belasting en dienstegelde is noodsaaklik vir die instandhouding van stadsrade. Die beginsel van basiese dienste vir almal, om armes ook toegang tot dienste te gee, is belangrik en word erken. Dit is egter nie regverdig om betalers van dienstegelde, wat 'n gereelde en pligsgetroue belasting- en dienstebetalingskultuur ontwikkel het, oor te belas om nie-betalers te subsidieer nie. Die kultuur van nie-betaling moet aangespreek word, aangesien daar baie nie-betalers is wat betaling kan bekostig.
Wat belastings en tariewe op plaaslike vlak betref, beywer die VF Plus hom vir die volgende:

• Vir die terugploeg van 'n minimum hoeveelheid belasting in die gebiede waar die belasting geïn is. Tans word belasting nie op 'n sistematiese en geoormerkte wyse hanteer nie.

• Vir 'n eenvormige belastingstelsel en eenvormige dienstariewe vir dieselfde kategorie verbruikers. Dit behels gelyke betaling vir gelyke dienste en die daadwerklike aanspreek van die kultuur van nie-betaling in sommige gemeenskappe. Dit sal die beginsel van gratis basiese dienste vir almal, om armes ook toegang tot dienste te gee, makliker implementeerbaar maak.

• Vir gehalte dienslewering en effektiewe regering. Dit beteken, onder meer, dat groot salarisse wat aan amptenare betaal word wat nie in staat is om diens te lewer nie, gestaak moet word.

• Teen die Wet op Eiendomsbelasting waarvolgens grondbelasting gehef word op die waarde van die grond en verbeterings daarop, in teenstelling met die vorige wet wat bloot die waarde van die grond in ag geneem het. Die wet veroorsaak drastiese stygings in grondbelasting, dermate so dat vele mense, waarvan baie bejaardes, nou hul eiendomme verloor. Daarom beskou die VF Plus hierdie wet as immoreel en sal die toepassing daarvan in sy volle omvang teenstaan in elke plaaslike regering. Die wet se magte moet beperk aangewend word sodat grondeienaars en belastingbetalers nie gestraf word vir hul eiendomsreg nie.

• Teen die onbillike belasting wat op landbougrond gehef word, waar boere minimaal dienste van die munisipaliteit ontvang, maar belasting moet betaal.

• Vir geordende dorpsontwikkeling met inagneming van eiendomswaardes van bestaande woonbuurtes. Dit is gevolglik nie regverdig om duurder woonbuurtes se markwaardes af te dwing deur 'n beleid van ruimtelike ontwikkelingsbeplanning wat laekostebehuising in gevestigde gemeenskappe beoog nie.

• Teen onbillike jaarlikse tarief- en belastingverhogings wat bo inflasie is. Hierdeur word meer nie-betalers geskep en word munisipaliteite se ekonomiese groei belemmer.

3.5. Werkskepping en ekonomiese groei
Werkloosheid is ‘n groot probleem in Suid-Afrika. Die groot hoeveelheid werkloosheid lei tot ‘n toename in verstedeliking, meer armlastiges wat gratis dienste ontvang en ‘n totale verarming van munisipaliteite.

• Die VF Plus glo dat geen regering volhoubaar werk kan skep nie. Regeringsprojekte wat poog om werk te skep, soos Uitgebreide Openbare Werke Programme (EPWP) skep slegs tydelike werke.

• Munisipaliteite se fokus moet nie wees om self direk werk te skep nie, maar eerder ‘n gunstige omgewing vir die privaat sektor te bewerkstellig om uit te brei en werksgeleenthede te skep.

• Munisipaliteite moet ‘n gunstige omgewing vir ekonomiese groei skep deur goeie dienslewering, infrastruktuurontwikkeling en -instandhouding en billike belastings en tariewe.

• Funksionerende munisipaliteite sal die ekonomiese welstand van gemeenskappe stimuleer, werksgeleenthede deur die privaatsektor skep en armlastigheid verminder.

• Die VF Plus glo dat vryhandel-sones deur munisipaliteite geskep moet word waar die beginsels van die vrye mark toegepas word sonder Swart Ekonomiese Bemagtiging, Regstellende Aksie en beperkende arbeidswetgewing.

3.6. Morele waardes
Die VF Plus sal morele waardes bevorder in ooreenstemming met die Christelike waardestelsel.

3.7. Samewerking met ander partye en veelpartyregerings
Die VF Plus sal na die verkiesing, sonder prysgawe van sy selfstandige identiteit of beginsels, saamwerk met ander partye en organisasies indien die party oortuig is dat so 'n samewerking die doelwitte van die gemeenskap, die VF Plus en hierdie manifes sal bevorder, veral om die ANC se beheer van munisipale regerings weg te neem.

Navorsing en opnames toon dat daar in die komende verkiesing by sekere munisipaliteite geen party sal wees wat ‘n 51%-meerderheid steun op hom sal verenig nie. Dit sal ook in toekomstige verkiesings in meer en meer munisipaliteite die geval wees.
Veelparty- oftewel koalisieregerings maak dit moontlik dat kleiner partye na die verkiesing ‘n belangrike rol in sekere metromunisipaliteite en rade gaan speel. Partye soos die DA en die VF Plus gaan mekaar nodig hê om na hierdie verkiesing in al hierdie koalisies saam met ander opposisiepartye te regeer en die ANC so te wen en die EFF uit bewind te hou. Van daar ons slagspreuk: “Saam is ons sterker”.

Die voordeel van veelpartyregerings is dat dit magsmisbruik minimaliseer en die waardes en denkrigtings van die groter gemeenskap, insluitend minderheidsgroepe verteenwoordig.

• Die VF Plus sal aan ‘n koalisieregering deelneem om die huidige regeringsbeleid en wette teen te staan wat tot die verval van munisipaliteite lei.

• Die VF Plus sal binne ‘n koalisieregering veg vir die regte van sy kiesers en opstaan teen rassediskriminasie en onbillike Regstellende Aksie-aanstellings.

3.8. Opposisie- en waghondrol
Daar waar die VF Plus in ‘n munisipale raad opposisieverteenwoordiging verkry, sal die party as volg te werk gaan om sorgvuldig ‘n opposisie- en waghondrol te vervul:

• VF Plus-kandidate beskik oor die nodige vaardighede om waar hulle as raadslede verkies word as deel van die groter VF Plus-span kundigheid en ervaring aan te wend tot voordeel van die munisipaliteit en die gemeenskap.

• VF Plus-raadslede sal ‘n belangrike rol speel in oorsigkomitees van munisipale rade en wend gesamentlike kundigheid op ‘n dinamiese wyse aan om effektiewe oorsig te verseker en daardeur beter verantwoordbare bestuur van munisipaliteite te bewerkstellig.

• VF Plus-raadslede sal effektiewe opposisie teen onreëlmatighede, korrupsie, wanbestuur en verkeerde prioriteite bied.

• Korrupsie, swak dienslewering, nepotisme, onbevoegdheid en wanbestuur sal deur die VF Plus ontbloot word en klagtes by toesighoudende instellings soos die Openbare Beskermer, die SAPD en die Valke sal gelê word om plaaslike regerings tot verantwoording te dwing.

• VF Plus-raadslede sal as fasiliteerders dien om kiesers se munisipale probleme op te los.

• VF Plus-raadslede sal nou saam met burgerregte-organisasies, buurtwagte, sakekamers en ander werk om die gemeenskap effektief te dien.

4. Samevatting van agtpunt-plan
Die VF Plus se konkrete agtpunt-plan vir die verbetering van munisipale bestuur en dienslewering kan soos volg saamgevat word:

1. Stop die aanstellings van amptenare wat nie op meriete is nie en stel die beste persoon vir die werk aan – ongeag velkleur, stop rassediskriminasie en fokus so op ‘n beter toekoms vir almal. Plaas ‘n onmiddellike moratorium op Regstellende Aksie-aanstellings met betrekking tot skaars vaardighede en poste wat vir langer as 90 dae vakant is.

2. Desentraliseer plaaslike regerings en wentel mag af na so na as moontlik aan die gemeenskap deur sub-rade en kleiner munisipaliteite.

3. Koester en respekteer diversiteit en stop die onnodige verandering van plek- en straatname. Bevorder veeltaligheid in raadsvergaderings.

4. Hef billike belastings en tariewe en stop onbillike verhogings.

5. Skep ‘n gunstige omgewing vir die privaatsektor om ekonomiese groei te stimuleer en volhoubare werksgeleenthede te skep – veral deur die skep van vryhandel-sones.

6. Bevorder goeie morele waardes.

7. Tree as die magsbalans binne veelpartyregerings op en veg vir die regte van VF Plus-kiesers binne sodanige regerings.

8. Tree as effektiewe waghonde ten opsigte van wanbestuur, korrupsie, onbevoegdheid, ens. op en vervul ‘n dinamiese gestruktureerde opposisierol.

Veg vir jou regte – Stem VF Plus!

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.